Die onthullings verlede week oor tienerswangerskappe in ons gebied het nouliks reaksie ontlok, behalwe vir een brief elders op dié blad.
Het ons al so gewoond geraak daaraan dat meisies van 12 swanger raak, soos berig is, dat ons dit maar gelate aanvaar soos ons ook maar misdaad skynbaar gelate aanvaar?
En bekommer dit ons nie dat 'n skoolhoof waarsku dat ons gemeenskap besig is om moreel te verval nie? Of weet almal dit lank al en aanvaar dít selfs gelate?
Die briefskrywer wys heel tereg daarop dat die fokus op tienerswangerskappe gewoonlik op meisie val.
Hoekom kry seuns nie ewe veel blootstelling nie? Hulle is immers ewe aandadig.
Die teenvraag is of 'n swanger meisie ongetwyfeld weet wie die pa van haar kind is. Ás sy weet, is dit niks minder as reg dat die seun nader gesleep word, aan sy hare indien nodig, om letterlik en figuurlik pa te staan vir sy daad nie.
In hoeveel gevalle waar tienermeisies geboorte skenk, is die pa hoegenaamd betrokke? Kan hy toegelaat word om net van die toneel te verdwyn?
Al hierdie is tergende vrae, waarop die enigste antwoord opvoeding is. En soos skole alte graag vir ouers laat weet: opvoeding begin in wese by die huis.
Ons as ouers sal die bul by die horings moet pak en onsself dwing om sonder omhaal van doekies onderwerpe aan te pak waarvan ons wegskram omdat ons bang is ons of ons kinders se sensitiwiteit bly in die slag. 'n Eerlike gesprek waarin ouers hul bona fides duidelik en beskaafd uitspel, kan nie kwaad doen nie, al is die kwessie ter sake hoe onplesierig.
En dit kan dalk net voorkom dat die begin van 'n jongeling se grootwordjare 'n onaangename werklikheid gespaar bly.