Met die afskop wil ek verskoning vra vir die gebrek aan 'n vissersrubriek die afgelope twee weke. Die eerste week was ek plaas toe in die Kakamas distrik, te ver van die see af. Die tweede week was ek op kursus oor ons visbronne, maar meer daaroor later.
Ek was verbaas om laasweek 'n verslag te lees van prof. Marius Leibold, professor in internationals sakebestuur aan die Universiteit Stellenbosch. Die hengelsport het 'n groter impak op die Suid-Afrikaanse ekonomie as rugy en gholf saam - 2,5 miljoen plaaslike hengelaars het verlede jaar R18,8 miljard aan hul geliefde sport bestee.
Die ekonomiese impak van hengel vir sport en ontspanning is minstens 80% groter as die totale visbedryf van ons land. Die verslag gaan verder om te noem dat die sportsoort gebuk gaan onder 'n gebrek aan inligting, met gevolglike wanbegrip ten opsigte van visbronne, sosiale belange en versteekte ekonomiese bronne wat groter benut kan word.
Afgesien daarvan dat hengel die gewildste sportsoort in die land is (5% van die bevolking neem daaraan deel), onderhou dit duisende gesinne. Dit is die eerste keer dat die hengelsport in Suid Afrika wetenskaplik onder die loep kom. Laat mens dink.
Laas week was ek op 'n kursus van die WWF vir skippers en bestuur van I&J, Sea Harvest en Viking Fisheries. Groot was my verbasing toe ek leer oor visse van wie se bestaan ek nooit geweet het nie. Spesies soos die spendid alfonsino, black oreo dory, orange roughy en wreckfish. Die kursus het ook ingesluit sleep-trawl metodes en die impak wat dit op die seebodem het, sowel as besprekings oor wat in die toekoms gedoen kan word om meer selektief, met die minste impak op die omgewing, te werk te gaan.
Ek was aangenaam verras toe ek besef dat die meeste skippers besorg is oor die impak wat hul bedryf op die omgewing en seebodem het, en hul gewilligheid om hul visvangmetodes te verander. Een van die organiseerders van die kursus was Samantha Peteresen, wat 14 maande op Marioneiland deurgebring het, met haar studie op die malmok (albatros). Haar bevindings oor dié merkwaardige voëls was insiggewend.
Die kursus was die eerste van 'n reeks vir alle visvangsektore, genaamd die Responsible Fisheries Programme.
Die SA Shark Conservancy sal in die toekoms dié en ander kususse aanbied. Hul besorgheid oor ons mariene bronne het Cattle Baron genoop om ons te nader om 'n kursus oor ons plaaslike seelewe en mariene ekosisteem vir kelners op die been te bring. Baie restaurantpersoneel word deur besoekers uitgevra oor ons omgewing, vis en seelewe en personeel het dikwels geen kennis nie. Die kususgangers sal op voltooiing 'n sertifikaat van SASC ontvang. Kontak ons by 028-313 0568 / 083 362 7632 / 083 757 8920.
· Op die hengelfront was enkele galjoenvangste en steenbras gerapporteer, asook haaie. Skuitvangste was meestal haaie en enkele geelbek. By Buffelsjag het die skuite silwervis en jong kabeljoue ingebring.
Stywe lyne.