Suid-Afrika het die verkeerde groeipad ingeslaan en dié groei wat wel ervaar word, is onvolhoubaar. Daar is egter nog omdraaikans.
Dit is van die belangrikste bevindings van die groep internasionale kundiges wat in opdrag van die regering navorsing gedoen het oor struikelblokke in die pad van die versnelde en gedeelde groeiplan (Asgisa).
Die bevindings is gister bekend gemaak.
Dié groep, onder leiding van prof. Ricardo Hausmann, het ’n lys van 21 voorstelle aan die hand gedoen oor hoe die land sy werklike groeipotensiaal kan bereik.
Mnr. Lesetja Kganyago, direkteur-generaal van die nasionale tesourie, sê Suid-Afrika sal nou aansienlik meer aandag aan uitvoer moet gee.
“Ons is in staat om dit te doen en die span het ook vertroue dat die land dit kan doen. Nou begin die gesprekke oor die pad vorentoe,” sê hy.
Die voorstelle is nog nie deur die kabinet oorweeg nie.
Die land se toekomstige strategie lê in drie woorde: uitvoer vir werk.
Die arbeidsmag in Suid-Afrika leen hom tot vervaardiging, landbou en mynbou, maar die sektore wat die sterkste gegroei het, is dié waar daar die minste vaardighede is.
Suid-Afrika se uitvoer is van die laagste ter wêreld. Van 1960 tot 2004 het die werklike waarde van uitvoer met 34% toegeneem.
Daarenteen het Botswana se uitvoer met 1 887% gegroei, Maleisië (4 392%) en Mexiko (1 277).
Hausmann en sy span sê struikelblokke in die pad van robuuste uitvoer is die vlak en wisselvalligheid van die rand, die handelsbeleid en tariefbeskerming, gebrekkige infrastruktuur, die arbeidsmark en swart ekonomiese bemagtiging (SEB).
Mnr. Dave Mohr, ekonoom van Citadel, sê hy was nog altyd ’n voorstander van groei wat inpas by die verspreiding van vaardighede wat in ’n land beskikbaar is.
“Die finansiële sektor is afhanklik van ander skeppers van groei, en die ware skeppers van groei maak goed wat verkoop kan word.”
Die span vra ’n nuwe benadering tot die wisselkoers, die Reserwebank se rol in die beheer van die inflasiekoers én die wisselkoers, die behoud van vaardige wit mense, die SEB-telkaart en indiensneming.
“Werkgeleenthede moet pas by die mense wat jy het, nie by die mense wat jy wens jy het nie,” sê Hausmann.
Fiskale beleid moet ’n groter bydrae tot besparing lewer, die nywerheidsbeleid moet nuwe uitvoergeleenthede aangryp, skaars vaardighede moet vinniger ingevoer word, en die sektorale opleidingstelsel (setas) moet hervorm word.
Daar word ook voorgestel dat ’n loonsubsidie vir jeugdiges ingestel word om hulle te help met die oorgang van die skool na die werkplek.
Die span het ook gewys op die loonverskille tussen vakbond- en nie-vakbondlede. In die vervaardigingsbedryf was 40% van die werkers in 2004 lid van ’n vakbond, terwyl die nasionale gemiddelde minder as 30% was.
“Vakbondstrategie moet die voordele van hoër lone vir dié wat in diens is, opweeg teen groter werkskepping, veral in vervaardiging.”
Net 42% van Suid-Afrika se ekonomies aktiewe bevolking het werk, terwyl dié syfer in vergelykbare ekonomieë nader aan 65% is. Dit beteken dat as Suid-Afrika ’n soortgelyke indiensnemingsyfer gehad het, nog 6 miljoen mense werk sou hê.
Die span glo die behoud van álle vaardige Suid-Afrikaners en die lok van buitelandse vaardighede sal help om loonongelykhede reg te stel.
Die seta-stelsel los nie die vaardigheidsprobleme op nie. Daar moet ’n losser samestelling van die setas wees en maatskappye moet toegelaat word om hul heffings te skuif na die seta van hul keuse. Die span beveel ’n “stopklousule” (sunset
clause) vir SEB en die afskaffing van buitelandse valutabeheer aan.