Pensioenfondse kan binnekort begin swaarkry omdat hul lede nie “betyds” doodgaan nie.
Volgens mnr. John Mauldin, hoof van Millennium Wave Investments in Texas in die VSA, plaas ’n generasie wat ál langer lewe, druk op dié tipe versekeraars.
“Baie mense sal eenvoudig nie genoeg pensioen hê nie aangesien hulle langer leef as wat statisties die vooruitskatting was toe hulle begin werk het. Dit word dus al hoe moeiliker vir versekeraars om te beplan.”
Mauldin was een van die sprekers op ’n konferensie van PSG Konsult by Sun City en het verskeie uitdagings vir die internasionale beleggingsomgewing geïdentifiseer.
“Die oudste mens ter wêreld is reeds 150,” sê Mauldin. “Jy wil beslis nie sy pensioenfonds wees nie, maar jy sal wel graag sy lewensversekeraar wil wees.
“Pensioenfondse se jonger kliënte sal eenvoudig langer moet werk om meer te kan spaar aangesien hulle maklik 90 of 100 jaar oud kan word,” sê hy.
Volgens Mauldin behoort dié probleme met pensioenfondse en annuïteite teen 2015 of 2020 baie sigbaarder te wees. Die probleem sal volgens hom ook nie oral op dieselfde tyd ontstaan nie.
“Europa het byvoorbeeld groter probleme en gaan 5 jaar voor die VSA getref word aangesien mense daar vroeër aftree,” sê hy.
Ander faktore wat tans ’n belangrike rol in die beleggingsomgewing speel, is die Amerikaanse ekonomie, wat volgens Mauldin wel reeds in ’n resessie is.
“Die resessie is veroorsaak deur die huismark- en die kredietborrel wat saam gebars het,” sê hy. Die herstel daarvan sal volgens hom later vanjaar begin en ten minste twee jaar duur.
“Dis ’n matige resessie, maar dit sal ’n bietjie langer as gewoonlik aanhou,” sê hy. “Verkoopsaktiwiteite in die huismark sal moontlik nog 30% swakker word en sowat $6 000 miljard se rykdom van huiseienaars is reeds vernietig,” sê hy.
Mauldin sê enige maatskappy wat bande met die Amerikaanse verbruiker het, sal laer winste sien en dít plaas druk op aandelemarkte en lei tot laer as verwagte langtermyngroei.
“Ons is tans in ’n tydperk waar teleurstellende verdienste die reël eerder as die uitsondering gaan wees,” sê hy.
Die kredietkrisis kan volgens Mauldin egter ook positiewe uitvloeisels hê. “Ek voorsien dat ons uit dié krisis nuwe tipes rykdom en nuwe bateklasse sal sien ontwikkel.”