Misdaad en moontlike kragonderbrekings tydens die Wêreldbeker-sokkertoernooi 2010 is ’n mite.
Só ook swak vervoerstelsels en oorlaaide infrastruktuur.
En niks is verder van die waarheid as dat sokkertoeriste weens bagasiediefstal op Suid-Afrika se lughawens die toernooi sal moet deurbring sonder die klere wat hulle ingepak het nie.
Dít is wat byna 200 internasionale en meer as 300 plaaslike joernaliste gister op die toerisme-indaba hier gehoor het van onder andere mnre. Danny Jordaan, hoof van Fifa se plaaslike reëlingskomitee, en Jabu Moleketi, adjunkminister van finansies.
Hulle het deelgeneem aan die jaarlikse mediabespreking op die indaba wat vanjaar onder die leiding was van die CNN-joernalis Fionnuala Sweeney.
SA Toerisme, wat Suid-Afrika se toerismebemarking behartig, reël elke jaar só ’n bespreking tydens die indaba. Die gesprek is voorafgegaan deur ’n video-voorlegging wat moes korte mette maak met die “mites” rondom die Wêreldbeker-sokkertoernooi 2010.
Dit het telkens koerantberigte getoon wat misdaad, die kragkrisis, infrastruktuur-gebreke, bagasiediefstal, vervoer- en ander probleme aanpak.
Dié kwessies is daarná afgemaak as mites.
Jordaan het gesê dit is begryplik dat mense skepties is, veral voor so ’n groot geleentheid.
Hy het gesê berigte dat die sokkerbeheerliggaam Fifa ’n alternatiewe plan het vir ingeval Suid-Afrika nie gereed is om die toernooi aan te bied nie, berus “op ’n gebrekkige begrip vir hoe dié geleenthede werk”.
Moleketi het gesê die nasionale tesourie het toegesien dat daar genoeg geld is om ’n veilige toernooi te verseker. Dít sal sekuriteit by lughawens, op vervoerstelsels en in hotels insluit.
Dít kom teen die agtergrond van ’n vroeëre noodberaad in die toerismebedryf oor misdaad.
Mnr. Moeketsi Mosola, uitvoerende hoof van SA Toerisme, het boonop met die opening van die indaba gesê: “Misdaad is ’n geweldige uitdaging vir ons bedryf . . . dit is steeds die Achilles-hiel van ons land en baie, baie min van ons sal nie saamstem dat dit ’n uitdaging is wat ons moet takel en oplos nie”.
Jordaan, Moleketi en Mosola het gister gesê Suid-Afrika het al verskeie groot internasionale byeenkomste aangebied, sonder enige misdaadinsident.
Mnr. Derek Carstens, verteenwoordiger van Eerste Nasionale Bank, een van die borge, het gesê die negatiewe kwessies is “meer ’n mediapersepsie” en strook nie met die publiek se steun vir die toernooi nie.
Daar was vroeg verlede jaar ’n bohaai toe dié bank R20 miljoen se advertensies vir ’n teen-misdaadveldtog skynbaar onder regeringsdruk onttrek het. Dié advertensies was daarop gemik om die regering te oortuig dat die omvang en verskrikking van misdaad nie net ’n persepsie is nie.
Die regering het volgens Moleketi genoeg geld beskikbaar gestel om kragstasies te bou ten einde die kragkrisis te verlig, hoewel dít eers teen 2013 gereed sal wees. Die toernooi sal volgens hom voorkeur geniet vir kragvoorsiening en daar sal nie kragonderbrekings wees nie.
Volgens Jordaan gaan al die stadions minstens sewe maande voor die toernooi al gereed wees en hy het kommer dat die land nie genoeg verblyf vir die toernooigangers het nie, ook as ’n mite die nek in geslaan.