Veiligheid en sekuriteit is die grootste uitdaging vir ’n suksesvolle Wêreldbeker-sokkertoernooi 2010.
Die gebrek daaraan bedreig toerisme en beleggings in Suid-Afrika en “laat ons wakker lê”.
Só sê me. Sibongile Mazibuko, uitvoerende direkteur vir 2010 van die Johannesburgse metroraad.
Mazibuko het gister op die toerisme-indaba in Durban aan plaaslike en internasionale toeriste verslag gedoen oor Johannesburg se vordering met voorbereidings vir die toernooi.
Haar uitlatings is in skerp kontras met uitlatings tydens ’n mediabespreking eergister by die indaba waar kommer oor misdaad afgemaak is as net ’n mite.
Mnr. Danny Jordaan, voorsitter van die sokkerbeheerliggaam Fifa se plaaslike reëlingskomitee, en mnr. Jabu Moleketi, adjunkminister van finansies, het aan die bespreking deelgeneem.
Johannesburg het volgens Mazibuko reeds die afgelope twee jaar sy aantal metropolisiebeamptes met meer as 1 600 opgestoot en gaan dié getal verder vergroot tot 4 000.
Dié beamptes sal opgelei word in skarebeheer en misdaadbestryding.
Die metropolisie se lede sal op straat sigbaar wees en ook te perd patrolleer.
Die stad belê glo baie in toerusting en motors vir dié lede en sal tegnologie inspan om besoekers veilig te hou.
Dít behels onder meer die aanbring van nog veiligheidskameras in dele van die stad waar besoekers sal beweeg.
’n Nuwe beheerkamer by Nasrec sal ook ingerig word om die bestaande een in die Carltonsentrum aan te vul.
Mazibuko het gesê Johannesburg sal nóú saamwerk met omliggende munisipaliteite soos Tshwane en Ekurhuleni om te verseker dat die hele gebied veilig is.
Gemeenskappe moet volgens haar by dié poging betrek word en groot sukses is al behaal met samewerking tussen die munisipaliteit en sakelui om die middestad te vernuwe en veiliger te maak.
Diefstal uit bagasie op die O.R. Tambo-lughawe moet uitgeroei word voor die Wêreldbeker-sokkertoernooi in 2010, het sy gesê. Kommer daaroor is ook vroeër as ’n mite bestempel.
Die polisie maak volgens Mazibuko goeie vordering met die bekamping van bagasiediefstal, het al arrestasies gedoen en verwag om nóg verdagtes aan te keer.