Ou Mutual se aandeelprys het gister onder bykomende verkoopdruk gekom ná ’n teleurstellende handelsverslag, maar ’n ontleder meen die aandeel beskik oor opwaartse potensiaal.
Ou Mutual is tans onder druk in die nadraai van die subprima-krisis wat finan?siële instellings wêreldwyd teister, veral dié met ’n internasionale profiel soos Ou Mutual.
Credit Suisse Standard Sekuriteite sê in ’n navorsingsverslag beleggers sal waarskynlik teleurgesteld wees met die jongste groepoorsig in die handelsverslag vir die eerste kwartaal. Maar hulle meen ’n realistiese opswaai sal Ou Mutual se aandeelprys tot R24,50 laat styg, rofweg 30% hoër as die jongste verhandelingswydte.
Ou Mutual se aandele het gistermiddag 16c of 0,88% swakker verhandel op R18,06. Verhandelings is gekenmerk deur redelike groot volumes.
Die handelsverslag het getoon dat netto kliëntevloei by Ou Mutual (SA) steeds teleurstellend is hoewel enkelpremiegroei aan die lewenskant verras het. Effektetrust-verkope by Ou Mutual se Omigsa-batebestuursafdeling was 19% hoër, wat stewig is, en kan daarop dui dat die verwagte omswaai by Omigsa momentum kry.
Die Britse sake het gely onder ’n verminderde vraag na vasterentedraende produkte wat winsgrense nadelig geraak het. Die grootste markaandeel van Ou Mutual in Brittanje is in die geld- en effektemark. Daarenteen het die Nordiese Skandia-sake die sterkste premiegroei in twee jaar getoon. Beleggers sal groter winsgewendheid later in die jaar as uitvloeisel hiervan verwag.
Verkope in die Ooste en Latyns-Amerika is teleurstellend, maar die VSA-batebelange het ’n beduidende bydrae gelewer tot groep- netto-invloei. “Dit lyk egter of ál minder van die boetiekfiliale in die land hul mededingers uitpresteer.”
Credit Suisse Standard Sekuriteite het nie sy vooruitskattings vir die res van die boekjaar afgeskaal nie, wat dui op ’n siening van vertroue in die groep ondanks die gedempte handelsverslag.
Ou Mutual het laas in Junie verlede jaar teen ’n hoogtepunt van R25,53 verhandel en in Maart vanjaar tot R16,32 verswak. Die jongste herstel dui op groter vertroue, maar beleggers bly nog skepties of staan op die kantlyn.
Ou Mutual het gister verhandel teen ’n prys-verdienste-veelvoud (p/v) van 6,9 en ’n dividendopbrengs van 5,5%.