Een persoon se krisis is ’n ander se geleentheid.
Só het mnr. Kris Budnik, Deloitte se direkteur vir ondernemingsrisikodienste, gister in ’n voorlegging oor organisatoriese veerkragtigheid gesê. “As jy nie voorbereid is nie, sal jy misluk.”
Die voorlegging is gebaseer op samesprekings met uitvoerende bestuurslede van verskeie Suid-Afrikaanse maatskappye oor die krisisse waardeur hulle in die gesig gestaar word.
Volgens dr. Mergen Reddy, hoof van Deloitte se strategie-en-finansiesafdeling, loop alles verkeerd wat moontlik vir Suid-Afrikaanse ondernemings verkeerd kan loop. “Daar is ’n finansiële, voedsel-, brandstof- en elektrisiteitskrisis. Indien Suid-Afrika in ’n aardbewingsone was, het ons seker nou aardbewings ook gehad.” Dit is in sulke krisistye dat die kaf van die koring geskei word, meen die twee.
“Suid-Afrikaanse maatskappye moet nie bedreig voel nie,” het Reddy gesê. “Wanneer die markte oor die afgrond val, daal pryse van bates en is dit ’n goeie tyd om te koop.”
Volgens hom gee krisisse aan nuwe ondernemings die geleentheid om die mark te betree. “Suid-Afrikaanse maatskappye moet (die krisisse) as geleenthede beskou om met Westerse maatskappye mee te ding.”
Volgens Budnik probeer plaaslike maatskappye veels te hard om soos Eerstewêreldse maatskappye op te tree en loop hulle sodoende geleenthede mis in veral ontwikkelende streke soos Afrika.
“Wanneer dinge moeilik begin raak, is plaaslike maatskappye geneig om op hul kernbedrywighede te fokus,” het hy gesê. “Maar dit is eerder ’n tyd om kordaat te wees en voordeel uit ’n krisis te trek.”
Volgens hom is die kern van die saak dat ’n maatskappy goed moes beplan het om uit die krisissituasie voordeel te trek.
Reddy het gesê maatskappye is in staat om krisisse te voorspel en hulle planne om dit te hanteer moet só ontwerp wees dat hulle ’n paar houe kan vat voordat sukses kom.
Hy het ook daarop gewys dat plaaslike maatskappye, met hul Eerstewêreldse uitkyk, groot geleenthede in die plaaslike mark laat verbygaan.
“ ’n Klein gedeelte van die Suid-Afrikaanse ekonomie is direk geskakel met die Eerste Wêreld. Die res is nie. Ons sit met groot getalle mense wat nie bedien word nie,” het hy gesê. “Ons dink ons is ’n Eerstewêreldland, maar ons is ’n ontwikkelende een.”
Budnik het bygevoeg dat plaaslike maatskappye nie dieselfde van hul regering kan verwag as in Eerstewêreldlande nie.
“Moenie dat ons krisisse hanteer deur te verwag dat daar infrastruktuur en ander dinge is nie. Ons moet leer om daarsonder klaar te kom én suksesvol te wees.”
Volgens hom is dit die eerste keer dat Suid-Afrikaanse ondernemings deur so ’n omvang van krisisse in die gesig gestaar word. “Maar ons moet verby die huidige krisisse kyk.”
Hy meen dat klein ondernemings in moeilike tye moet saamwerk ten einde voordeel te trek uit die krisisse.
“Hulle kan hulpbronne soos vloerruimte, vaardighede, vermoëns en infrastruktuur deel. Ons dink normaalweg dat ons in isolasie kan sake doen, maar ons kan nie,” het Budnik gesê.