Meer inspeksies en strenger optrede kom teen veral groot maatskappye wat wetgewing oor regstellende aksie ignoreer, het mnr. Membathisi Mdladlana, minister van arbeid, gister gewaarsku.
Mdladlana het in die debat oor sy begrotingspos in die nasionale vergadering gesê R690 miljoen van die departement se begroting van R1,7 miljard gaan gebruik word om meer arbeidsinspekteurs aan te stel.
Die doelwit is om ondersoeke van maatskappye op die JSE vanjaar te verdubbel. “Ons moet die grotes kry om arbeidswette te gehoorsaam en die voorbeeld te stel,” het hy ná sy toespraak aan joernaliste gesê.
Onder die maatskappye wat Mdladlana genoem het waar ondersoeke aan die gang is, is Bidvest, Nedbank, Woolworths, Anglo Platinum en Investec.
Hy het gesê daar is talle maatskappye wat ernstig daaroor is om wetsvoorskrifte na te kom en hy wil hulle gelukwens. Maar ondanks navorsing wat toon dat daar ’n groot poel gekwalifiseerde en bekwame swart mense is, toon verslae oor regstellende aksie steeds dat swart mense in die werkplek aan die kortste ent trek.
’n Verslag van Grant Thornton het ook onlangs aangetoon dat minder as 60% van maatskappye meen regstellende aksie en swart bemagtiging is belangrik om ’n wenner in die sakewêreld te wees.
Mdladlana is egter deur opposisielede soos mnre. Willie Els (VF Plus) en Les Labuschagne (DA) gepak oor die feit dat jong wit mense wat niks met apartheid te doen gehad het nie, tans die land in groot getalle verlaat om werk te kry, terwyl ryk swart mense se kinders steeds bevoordeel word deur “regstelling”. Hulle het ook daarop gewys dat “wit armoede” vinnig aan die toeneem is.
Mdladlana het ook aantygings oor gebrekkige vaardigheidsontwikkeling in die land, asook dat die “rigiede” arbeidsmark ekonomiese groei knou, verwerp. Hy het gesê meer word in Suid-Afrika aan die opleiding van werkers bestee as in die meeste ander lande. Hy het stringe syfers genoem van leerderregistrasies en gesê die meeste het ná die voltooiing van hul opleiding formele werk gekry.
Hy het ook gevra hoe die arbeidsmark as onbuigsaam beskou kan word as bevind is dat sowat 5,8 miljoen van die sowat 13 miljoen “werkendes” in Suid-Afrika tydelike informele of seisoenswerk doen sonder werkloosheidsversekering, die voordele van geskrewe kontrakte en selfs behoorlike verlofbepalings.