Joost van der Westhuizen se handtekening verskyn onderaan ’n brief van Progressive Investment Holdings (PIH) wat na bewering verkeerde inligting en ’n logo van ’n ander batebestuurder bevat en aan ?kliënte gestuur is.
PIH en drie verwante ondernemings is vandeesweek onder voorlopige kuratorskap geplaas weens onder meer die beweerde oortreding van die Wet op Finansiële Advies- en Tussengangerdienste (Fais).
Die Raad op Finansiële Diens?te (RFD) het die aansoek om kuratorskap ingedien ná ’n jaarlange ondersoek na PIH se sake. Finansiële dienste is na bewering onregmatig gelewer.
Van der Westhuizen is sedert begin Maart bedryfshoof by PIH.
By navraag het hy aan Sake24 gesê dat dit wel sy handtekening is wat onderaan die brief verskyn, maar bygevoeg dit is ’n afskrif daarvan wat op die brief “gecopy en gepaste” is.
Volgens hom het hy toestemming gegee dat sy handtekening gebruik mag word solank hy ingelig word waarvoor dit gebruik word.
Oor die betrokke brief, gedateer 5 Mei, het Van der Westhuizen gesê die bemarkingsdepartement van PIH het dit uitgestuur om aan mense te wys hy is “aan boord”.
Volgens hom het hy nie geweet dit word “namens hom uitgestuur nie”.
Van der Westhuisen het gesê hy weet nie wat die inhoud van die brief beteken nie. Hy het volgehou dat hy nog opgelei word en net ’n “student” is en niks van die onderneming se sake weet nie.
Hy ontvang opleiding van ’n persoonlike opleier, mnr. Murray Kilgour, sodat hy in Januarie volgende jaar as uitvoerende hoof van die maatskappy kan oorneem.
Die pos van bedryfshoof is intussen vir hom geskep deur mnr. Freddie Andalaft, huidige uitvoerende hoof van PIH wat in die RFD-hofstukkke beskryf word as die brein agter die vier ondernemings.
Andalaft het gesê as Van der Westhuizen se handtekening gebruik word, moet dit deur hom (Andalaft) goedgekeur word. “Dit is net vir bemarkingsdoeleindes, nie vir kontrakte nie,” het hy gesê.
Volgens hom word dit ook op pamflette en penne gebruik, asook bemarkingsbriewe soos die betrokke een.
Dié brief bevat ook ’n handelsmerk van die batebestuurder Dynamic Wealth wat volgens mnr. Phillip Hattingh, besturende direkteur van die onderneming, onwettig gebruik is.
Hattingh het gesê hulle gaan regstappe doen daaroor. Volgens hom word alle briewe waarop hul handelsmerk verskyn, deur hul nakomingskantoor goedgekeur vanweë die streng vereistes wat deur die Fais-wet gestel word vir inligting wat aan kliënte gestuur word.
Dié brief se inligting is ook verkeerd, volgens Hattingh.
In die brief word onder meer gesê dat van Dynamic Wealth se “aandeleplatform” gebruik gemaak word.
Volgens Hattingh het PIH nog nooit ’n aandelerekening by Dynamic Wealth gehad nie.
Andalaft het gesê dié logo is gebruik na aanleiding van ’n brief van ’n direkteur van Dynamic Wealth.
In daardie brief, gedateer April, skryf mnr. Kobus Zietsman, ’n direkteur van Dynamic Wealth, dat hulle die effektetrusts van Progressive Asset Management (PAM) so spoedig moontlik gaan oorneem.
Hattingh het egter gesê niks is deur die direksie goedgekeur nie.
Hattingh het gesê dit is nie die eerste keer dat sulke ondernemings probeer om uit Dynamic Wealth se goeie naam munt te slaan nie.
Dit het ook al met ander bekender batebestuurders gebeur, het hy gesê.
Die RFD het intussen ’n verklaring uitgereik waarin gesê is die betrokke effektetrusts word deur Metropolitan Collective Investments besit.
Die RFD het gesê dié effektetrusts is nie onder kuratorskap nie. Dit is in veilige bewaring by die trustee van die effektetrusts, Standard Bank.
Intussen ontken Van der Westhuizen steeds dat hy aandele in PIH gekoop het en ’n direkteur is.
Op die webwerf van PIH langs ’n foto van hom word na hom verwys as bedryfshoof en uitvoerende direkteur.
Daar word gesê die “bekende rugby-ikon en SuperSport-kommentator” het ’n wesenlike belang in PIH gekoop. Hy het gesê hy het dit onder hul aandag gebring dat die webwerf verkeerd is.