Wysigings aan die Pensioenfondswet rakende onmiddellike uitbetalings aan nie-fondslede wat van lede skei, kan miljarde rande uit pensioenfondse laat vloei, is Vrydag gewaarsku.
Mnr. Rod Stevenson, regsadviseur van Ou Mutual, het die waarskuwing gerig in ’n parlementêre voorlegging van die Vereniging van Lewensversekeraars (LOA) oor die wysigingswetsontwerp op algemene finansiële-dienstewette.
Die wetsontwerp maak voorsiening vir wysigings aan sowat agt wette wat met die regulering van finansiële instellings te doen het. Dit het ten doel om meer mag te gee aan reguleerders soos die Raad op Finansiële Dienste (RFD) om administratief teen oortreders of risiko-gevalle op te tree.
Stevenson het gesê die LOA ondersteun die beginsel van ’n skoon breuk waar ’n pensioenfondslid skei en die belang in die fonds van sy of haar eggenoot wat nie ’n lid is nie, onmiddellik uitbetaal moet word.
Daar moet volgens hom na die koste-implikasies hiervan gekyk word.
’n Bepaling moet ook heroorweeg word wat onmiddellike uitbetalings terugwerkend van toepassing wil maak op skeibevele waar bepaal is dat uitbetalings eers in die toekoms (byvoorbeeld by die lid se aftrede) sal geskied.
Stevenson het gesê daar word geraam dat gemiddeld sowat 35 000 skeisake per jaar die afgelope tien jaar in Suid-Afrika plaasgevind het. Dit beteken tot 10% van die pensioenfondslede kan eise van voormalige eggenote ontvang as die wysigings goedgekeur word.
Dit sal nie net ’n administratiewe las en koste vir die betrokke pensioenfondse meebring nie, maar ook die aanpassing van beleggingstrategieë noodsaak omdat miljarde rande se bates uit die fondse kan vloei.
“Van watter kant af jy die probleem ook al bekyk, dit sal ’n beduidende uitwerking op die pensioenfondsbedryf hê,” het hy gesê.
Mnr. Cas Coovadia het namens die Vereniging van Banke ook voorbehoude uitgespreek oor die verskeidenheid regulatoriese laste wat op banke geplaas kan word as meer magte rakende administratiewe sanksies en strawwe aan instellings soos die RFD, die krediet?reguleerder en die Fais-reguleerder (finan?siële raadgewing) gegee word.
Hy het spesifiek verwys na artikels 47 en 48 van die wysigingswetsontwerp wat “nie in ag neem dat die hoofreguleerder van banke, die registrateur van banke, reeds streng vereistes aan banke stel nie”.
Hy het voorgestel dat banke in sekere gevalle van vereistes vrygestel word om duplisering te voorkom.
’n Meganisme moet ook in die wetgewing ingebou word om ?koördinering tussen reguleerders te bewerkstellig.