Jaco Leuvennink,
Twee wetsontwerpe wat aansluit by die omstrede voorgestelde onteieningswetgewing “bevestig die vermoede dat die regering suiwer daarop uit is om kommersiële boere so gou moontlik van hul grond af te kry”.
Dit is die eerste salvo kritiek teen die Wysigingswetsontwerp op Grondvoorsiening en Bystand en die Wetsontwerp op Grondgebruiksbestuur.
Albei wysigingswetsontwerpe sal die regering se magte uitbrei om grond, onroerende eiendom, trusts en ondernemings te bekom en grondgebruik te bestuur. Dit is deur die minister van landbou en grondsake by die parlement ingedien.
Die wysigingswetsontwerpe kan vorentoe dieselfde kritiek oor die aantasting van eiendomsregte ontlok as wat tans die geval met die onteieningswetgewing is.
Soos met die onteieningswetgewing, wat onder openbare werke val en tans deur die parlementêre portefeuljekomitee bespreek word, word in die memoranda by die wetsontwerpe gesê ’n onderliggende doelwit is doeltreffender uitvoering van die grondwetlike vereistes, soos vervat in artikel 25, oor grondhervorming.
Die regering, wat reeds skerp kritiek verduur het oor die sloering met grondhervorming, voer aan hy wil bloot die uitvoering van die grondwetlike vereistes rondom ’n gelyker verdeling van grondbesit vergemaklik en nie suksesvolle boere se grond vat nie.
Die landbouvereniging TLU SA sê die wetsontwerpe vorm ’n dodelike kombinasie wat die landbou-omgewing in Suid-Afrika drasties kan benadeel.
Mnr. Paul van der Walt, president van die vereniging, het gesê die voorgestelde magtiging om onteiende grond, implemente en vee in trust te hou en te bestuur totdat dit aan opkomende boere oorgedra kan word, bevestig die vermoede dat die regering suiwer daarop uit is om die huidige kommersiële boere so gou moontlik van hul grond te kry, selfs al is daar nog geen behoefte aan grond nie.
“Die doelwit is duidelik om die grond in staatsbesit te kry selfs voordat daar ‘bevoegde’ opkomende boere geïdentifiseer is. Watter waarborg is daar dat die staat, as hy eers die grond het, dit nie gaan gebruik as belonings aan sy ministers en ‘struggle-vennote’ nie, soos in Zimbabwe.
“Ware opkomende boere word reeds afgeskeep en die verantwoordelikheid van gevestigde boere gemaak, ” het hy gesê.
Skerp kritiek is die afgelope week in voorleggings oor die onteieningswetgewing gelewer op die magte wat die minister (van openbare werke) kry om “in openbare belang” en nie soos tot dusver vir “openbare doeleindes” nie, met onteiening voort te gaan. Daar word gemeen openbare belang is ’n vae begrip wat misbruik kan word in eie belang.
Dit tas volgens sommige, grondwetlik-beskermde eiendomsregte, en dus die grondslag van ’n vryemarkekonomie, aan.
Die minister, in teenstelling met die howe tot dusver, sal ook oor die billike vergoeding vir onteiende grond mag besluit.
Die Wysigingswetsontwerp op Grondvoorsiening en Bystand vergroot en verduidelik volgens die memorandum die magte van die minister van landbou en grondsake om roerende en onroerende eiendom, ekonomiese ondernemings, aandele, regte, titelaktes of ’n belang in regspersone te bekom.
Dit maak ook voorsiening vir finansiële bystand met die verkryging, ontwikkeling of verbetering van eiendom. Die definisie van eiendom in die wetgewing is baie breed.
Die wetsontwerp op grondgebruik sal die ou Wet op Ontwikkelingsfasilitering vervang en maak voorsiening vir ’n “eenvormige, doeltreffende en geïntegreerde regulatoriese raamwerk” vir grondgebruik om die “openbare belang” te bevorder.
Dit sal volgens die memorandum samewerkende regering, maatskaplik-ekonomiese voordele, en die bereiking van grondhervormingsdoelwitte bevorder. Voorsiening word gemaak vir die stigting van grondgebruik-reguleerders en ’n nasionale grondgebruikkommissie.
Die TLU sien die beoogde onteiening van aandele in landbou-ondernemings en trusts ook as ’n kwaadwillige aanslag op boere, aangesien boere in baie gevalle die meerderheid aandele in landbou-ondernemings besit. Talle boere het ook hul bates en belange in trusts geplaas.