Die gepronk van perde en modebewustes kry miskien die meeste aandag, maar op die ou end is dit geld wat die meeste tel.
Ná ’n geskatte byna R190 miljoen se weddenskappe verlede jaar in die aanloop tot en tydens die Durban July, gaan die rande vandag waarskynlik weer by dié glansryke wedren rol.
Volgens die organiseerder, Golden Circle, is sowat R36,5 miljoen landwyd net op die hoofwedren verwed. R18,5 miljoen is deur die dag op die perseel verwed.
Net in KwaZulu-Natal is R35,5 miljoen op die dag se wedlope verwed, terwyl landwyd nagenoeg R79,2 miljoen by die totalisators verwed is.
Die organiseerders meen dat ’n totaal van R190 miljoen formeel én informeel daarop verwed is. Waar eienaars van die perde baie moeite doen met hul voorbereiding vir dié dag om met die wenbedrag te probeer huis toe gaan, is dit vir dobbelaars meer ’n gelukspel as iets anders. Sedert die wedren se ontstaan 112 jaar gelede kon nog net vier perde dit regkry om twee jaar ná mekaar te wen.
Sowat 53 002 mense was ver?lede jaar by die July en die bestuur sê dié getal sal nie vanjaar oortref word nie.
“Ons laat slegs 50 000 mense by die geleentheid toe,” sê me. Gill Simpkins, ’n woordvoerder van Gold Circle.
Volgens haar begin die beplanning reeds in Augustus van die vorige jaar.
“Ons vergader so drie weke ná die byeenkoms om te gesels oor hoe dit afgeloop het, en ’n maand daarna begin ons aan die volgende een beplan.”