Die herrie oor Investec se inflasiesyferkritiek het gister ’n nuwe wending geneem.
Die vakbond Solidariteit het ’n klag by die Raad op Finansiële Dienste (RFD) ingedien waarin Investec se topbestuur daarvan beskuldig word dat hulle misleidend en onderduims opgetree het.
Hiervolgens het mnr. Stephen Koseff, uitvoerende hoof, saam met ander direkteure kort voor die bekendstelling van Investec se inflasiesyfers, aandele gekoop.
Volgens mnr. Dirk Hermann, uitvoerende adjunk-hoof van Solidariteit, het Investec se aandeelprys in die week van die aankondiging met 17% gestyg. Die topbestuur se optrede kan ’n oortreding van die Sekuriteitewet wees.
“Die vermoede bestaan dat hulle bewus was van die inflasie-aankondiging wat sou volg en dat dit Investec se aandeelprys ’n hupstoot sou gee,” sê Hermann.
Mnr. John Green, hoof van Investec Batebestuur Suid-Afrika, sê dit is absurd. “Die aandele is op 11 Junie gekoop terwyl die besonderhede van die inflasiemandjie eers op 1 Julie deur Statistieke Suid-Afrika (SSA) uitgereik is.”
Die kritiek op die vertraagde inwerkingstelling van die nuwe mandjie is op 15 Julie deur mnre. André Roux en John Stopford namens Investec Batebestuur, ’n filiaal van Investec, uitgereik.
“Ons vermoed Solidariteit se optrede het meer te doen met probleme wat met sy eie loononderhandelings ondervind word,” het Green gesê.
In Investec se aanvanklike kritiek is gesê dat die VPIX-inflasie, gemeet met die nuwe mandjie, 8,7% beloop teenoor die amptelike 10,9%.
SSA het deurgeloop onder kritiek dat die nuwe mandjie nog nie in werking gestel is nie, wat rentekoersverhogings kon keer.
Investec se berekenings is later ondersteun deur Nedbank en Ou Mutual Batebestuur (Omigsa).
In sy brief aan mnr. Dube Tshide, uitvoerende hoof van die RFD, sê Hermann Investec se berekeninge is misleidend. “Investec moes dit op sekere skattings gegrond het.”
Die RFD word versoek om die saak van moontlike onwettige verhandelinge verder te ondersoek.
Volgens data op die JSE se Sens-nuusdiens het Koseff op 11 Junie in Johannesburg 155 825 Investec-aandele teen R48,27 stuk teen ’n uitoefeningsprys van R1,7 miljoen aangekoop. In Londen is 100 000 aandele teen 2,99p gekoop. Die opsies verval eers in 2011.
Die grootste koper was mnr. Bernard Kantor, stigterlid van Investec en huidige direkteur, wat 500 000 aandele teen ’n uitoefeningsprys vir R5,5 miljoen gekoop het.
Investec se aandeelprys het daarna op 8 Julie nog verder gedaal tot R42 voordat dit op 18 Julie herstel het tot R51,76. Daarna het dit weer skerp gedaal, maar dit was gister meer as 8% stewiger op R49,81.
Bankontleders wys in navorsingsverslae daarop dat Investec se aandeelprys histories onderwaardeer is. Sy hoogtepunt van die afgelope 12 maande was R94,20 op 23 Julie 2007.
Teen gister se verhandelingsprys word Investec teen ’n lae prys-verdienste-veelvoud (p/v) van 4,95 en ’n hoë dividendopbrengs van 7,8% aangeslaan.
Uit die data van die JSE is dit duidelik dat volumes laag was toe Koseff op 11 Junie gekoop het en nou eers begin klim.
Hermann het gisteraand gesê hy was in verbinding met mnr. Hendrik du Toit, Investec Batebestuur se hoof, oor die kwessie. ’n Vergadering word beplan om misverstande uit die weg te ruim.