Myne en motorfabrieke het gister leeggestaan terwyl duisende lede van Cosatu in vier provinsies hul lone prysgegee het om eerder optogte dwarsoor die land by te woon.
“Dit lyk asof dit elke keer groter word,” sê mnr. Patrick Craven, nasionale Cosatu-woordvoerder, oor die derde protesstaking oor die kragkrisis voor die landwye staking volgende Woensdag.
Hoewel daar geen betroubare skatting is van hoeveel mense staak nie, sê hy gister se optogte het “tienduisende” lede van die 21 Cosatu-vakbonde gelok.
Dit was ’n uiters gevoelige hou vir die land se motorbedryf, wat die laaste paar maande toenemend steier onder die ekonomiese afswaai.
Die groot voertuigvervaardigers in die Oos-Kaap, asook die meeste verskaffers, is tot stilstand gedwing.
Die motorbedryf dra sowat 8% tot die land se bruto binnelandse produk by.
Elkeen van die land se grootste platinum- en goudprodusente, sektore wat in Noordwes, Limpopo en Gauteng gekonsentreer is, het grootskaalse afwesigheid ervaar.
Dr. Frans Barker, ’n senior bestuurder van die Kamer van Mynwese, sê daar is geen formele poging op nywerheidsvlak om deelname aan die protesveldtog te meet nie.
“Uit informele gesprekke blyk dit egter dat die deelname gemeng was,” sê hy.
Mnr. Philip Cole, ’n onafhanklike ontwikkelingsekonoom, het gesê dit is ’n absolute mors van tyd om te staak oor breë ekonomiese kwessies soos lewenskoste wat styg. Dié kwessies het niks te doen met werkomstandighede of arbeidskwessies nie, maar draai om beleid. Soos die Cosatu-staking van verlede jaar oor swak dienslewering, sal niks hierdeur bereik word nie, sê hy.
Ondanks ’n hofbevel wat Cosatu verbied om die stakings in te span vir protes oor enigiets buiten die kragkrisis, het sy lede kort-kort voedsel- en petrolprysinflasie ook op die voorgrond geplaas.
Mnr. Les Holbrook, uitvoerende hoof van die Grens-Kei-sakekamer, het gesê dit is moeilik om te verstaan waarom Nedlac toestemming vir die massa-optrede gegee het. “Die georganiseerde sakegemeenskap is baie ongelukkig oor die situasie. Dit is nie ’n oplossing om mense ’n dag lank uit die werkplek te hou nie.”
Daarenteen het mnr. Colen Garrow, hoofekonoom by Brait SA in Johannesburg, gesê die stakers “maak ’n baie geldige punt”. “Suid-Afrikaners kry seer en daar is ’n geldige stem om aan te hoor,” sê hy.