Johannesburg. – TNS Research Surveys se marksentiment-indeks (MSI) het met nog 18 punte geval van 127 in die eerste kwartaal van 2008 tot 109 punte in Junie 2008, het die marknavorsingsmaatskappy vandag gesê.
Dit is die laagste MSI-punt sedert Oktober 2002, die indeks het op 140 gestaan in Junie 2007.
Die indeks ondersoek mense se huidige en toekomstige persepsies van werkbeskikbaarheid, besigheidtoestande, algemene ekonomiese toestande, pryse en inflasie, moontlike inkomste en die uitwerking van vigs en misdaad op die ekonomie.
Volgens die opname is die MSI beïnvloed deur ernstige kwellinge oor die huidige besigheidtoestande, mense se huidige ekonomiese toestande en die verwagting dat mense se persoonlike ekonomiese omstandighede baie slegter sal wees oor ses maande asook die voortdurende stygende pessimisme oor besigheidtoestande oor ses maande.
“Verder was mense se kommer oor inflasie die hoogste sedert die indeks gemeet is,” het TNS gesê.
Vertroue in Suid-Afrika se ekonomie het geleidelik gegroei vir vyf jaar, en sy hoogtepunt in 2006 bereik, maar het ook hoë vlakke in 2007 behou.
“Die laaste ses maande is al hierdie voordele egter uitgewis, asof ons in ’n ander land bly,” het TNS gesê.
– Sapa