Wit vroue se status as bemagtigingskandidate kan binnekort heroorweeg word, en bemagtiging kort ’n sononder-klousule.
Só het mnr. Jimmy Manyi, voorsitter van die Kommissie vir Billike Indiensneming, Woensdagaand gesê.
’n Nuwe verslag oor bemagtigingsvlakke, wat binnekort uitgereik gaan word, sal sy standpunt bevestig.
“Wit vroue is tot drie keer meer bemagtig as waarop hulle geregtig is, as ’n mens kyk na die persentasie wat hulle uitmaak van die land se ekonomies aktiewe bevolking,” het Manyi gesê.
“Bemagtiging kort myns insiens ’n sononder-klousule. Dit beteken die son moet een of ander tyd daaroor sak. Dit is ’n tydelike instelling wat nodig is om sekere vlakke van bemagtiging te bereik, maar wat as hierdie vlakke bereik is? Moet daar aangehou word om die beleid toe te pas?”
Manyi sê ’n nuwe verslag wat oor bemagtigingsvlakke opgestel is, gaan binnekort uitgereik word en hy sê dié verslag sal sy standpunt bevestig.
Manyi dien in ’n kommissie vir bemagtiging wat die regering adviseer oor arbeidsake, en hy sê die kommissie sal die verslag gebruik om die vraag weer te vra of wit vroue steeds deel moet wees van bemagtiging.
“Ek val nie wit vroue aan as ek sê wat ek sê nie. Al wat ek doen, is om die statistieke te bespreek en te vertolk.”
Manyi het verlede jaar ’n storm ontketen toe hy in die media gesê het wit vroue moet nie langer as bemagtigingskandidate geld nie. Hy het gesê terwyl wit vroue slegs 5,5% van die ekonomies aktiewe bevolking van Suid-Afrika uitmaak, is dié bevolkingsgroep reeds oorverteenwoordig op ál drie bestuursvlakke in die ekonomie.
“Wit vroue beklee byna 15% van die uitvoerende poste in 4 380 maatskappye wat ondersoek is. Dit vorm nie deel van die mandaat vir bemagtiging nie. Wit vroue het die grootste voordeel getrek uit bemagtiging,” het Manyi gesê.
Die minister van arbeid, mnr. Membathisi Mdladlana, het verlede jaar, volgens mediaberigte, in antwoord op Manyi se kommentaar gesê die ANC het geen plan om wit vroue die reg op bemagtiging te ontneem nie.
“As die kommissie oor bemagtiging, sê ons maar net dat dit lyk asof die werk gedoen is met betrekking tot wit vroue. Hulle het die verlangde vlakke van bemagtiging bereik en nou is die beleid vir hulle oortollig.”