Johannesburg. – Bemarkers moet hul sokkies optrek en die waarde van ryk mense ouer as 40 jaar begin besef.
Dit is nie net die mense met die geld nie, maar ook dié met die eiendom.
Dít is van die bevindings van ’n studie deur die Universiteit van Kaapstad en die Unilever-instituut.
Mense in die lewenspeil (LSM) -groep 7 tot 10 wat ouer as 40 jaar is (die “prime timers” genoem), voel volgens die studie oorgesien deur bemarkingsveldtogte wat jeugdigheid as ’n ideale toestand voorhou.
“Tradisionele bemarkers het hul bemarkingskommunikasie op die mark vir mense onder 40 gefokus,” sê prof. John Simpson, direkteur van die instituut. “Die werklikheid is egter dat die meerderheid in dié mark ’n kleiner besteebare inkomste het (as diegene in LSM 7 tot 10 en ouer as 40).”
Volgens Simpson voel die “prime timers” in die gesig gevat deur bemarkers en adverteerders se obsessie met jeugdigheid.
“Dit verskaf ’n reuse-geleentheid vir ondernemings en bemarkers om dié leemte te vul en hul produkte en dienste nommerpas te maak vir die meer oordeelkundige en finansieel sterk volwasse mark.”
Mnr. Derek Carstens, handelsmerk-direkteur van ENB, sê as jy ’n onmiddellike opbrengs op jou bemarkingsbelegging wil hê, moet jy by dié mark betrokke raak.
In die navorsing is bevind dat die “prime timers” relatief min skuld en ’n gesamentlike inkomste van R300 miljard het. Suid-Afrika se bruto binnelandse produk is ongeveer R2 000 miljard.
Nog ’n bevinding is dat die “prime timers” groter weerstand bied teen swakker ekonomiese omstandighede.