Nie alle vulstasies is goudmyne nie.
Wanpersepsies bestaan dat vulstasie-eienaars breed glimlag elke keer as die petrolprys opgestoot word, maar in werklikheid is hulle onder groot druk.
Vulstasie-eienaars kry net 64,7c/F ongeag wat die petrolprys is. Dié bedrag word nié met elke petrolprysverhoging aangepas nie.
Die petrolprys het sedert Januarie verlede jaar met nagenoeg 77% gestyg, maar die wins wat kleinhandelaars toe per liter verdien het, het van bykans 9% tot 6,5% gedaal.
“Geen onderneming kan met só ’n klein wins sake doen nie,” sê mnr. Peter Noke, nasionale direkteur van die kleinhandel-brandstofvereniging (Sapra).
Vulstasie-eienaars kan wel deur prysstygings bevoordeel word deurdat hulle die petrol in hul tenks teen ’n laer prys gekoop het. Op dié petrol sal hul wins wel meer as 64,7c wees.
Die bedryf is egter volume-gedrewe. Wanneer daar druk op besteebare inkomste is, soos nou, loop verkope deur.
Vulstasie-eienaars vind, nes motoriste, nie baat by hoër pryse nie.
Volgens Noke het Suid-Afrika boonop te veel vulstasies, iets wat dit nóg moeiliker maak om te oorleef.
Die grootste deel van die prys bestaan uit basiese koste – dit wil sê die uitgawes om die petrol tot by oliemaatskappye se raffinaderye te vervoer, om die brandstof te vervaardig en om die brandstof te stoor en na die handelaars te vervoer.
Dan is daar ook die geld wat aan brandstofbelasting gaan, die Padongelukfonds, groothandelmarges, afleweringskoste en so meer.
Daar is twee soorte vulstasies: franchise-ooreenkomste waar ’n oliemaatskappy en ’n huurder in ’n kontrak tree en familie-ondernemings wat as entrepreneurs met hul eie geld begin. Dít maak egter nie die eie ondernemings onafhanklik nie, want “hulle dra steeds die naam van een of ander groot oliemaatskappy”, sê dr. Rod Crompton, ’n reguleerder by die nasionale energiereguleerder (Nersa).
Oliemaatskappye swaai die septer wanneer dit kom by voorwaardes vir onderhandelings. Noke sê vulstasies kan slegs vol vragte brandstof bestel, dié brandstof moet binne 24 uur betaal word en hulle is onderworpe aan streng afleweringskedules.
Die tydsberekening van dié bestellings is kritiek. Petrolpryse word op die eerste Woensdag van elke maand aangepas. As die prys styg, sal die vulstasie op die Dinsdag ’n aflewering verkies omdat die aankoopprys op die ou en laer prys gegrond is. Só kan die vulstasie-eienaar meer as 64,7c/F verdien.
Net so kan ’n vulstasie baie geld verloor as die prys skerp daal. Die eienaar sal verkies dat aflewering op die eerste dag van die nuwe laer prys geskied anders verloor hy op die petrol wat reeds in sy tenks is.
Daar bestaan volgens Crompton ’n wanpersepsie dat mense in dié bedryf sakke vol geld maak.
Dit hang af van die soort onderneming asook hoe gevestig die onderneming is.
“Dis ’n liters-bedryf – jy maak slegs geld met hoëvolumeverkope,” sê Crompton.
Daar is 30% te veel vulstasies in Suid-Afrika; dít sluit klein en groot vulstasies in. Dis vir die kleintjies moeiliker om te oorleef.
“Hoe laer die gemiddelde brandstofvolume per diensstasie, hoe hoër is die uitgawes om dit te onderhou,” sê Noke.
“Die eerste ding wat mense gewoonlik sê, is dat die bedryf gedereguleer moet word,” maar deregulering lei net aanvanklik tot laer pryse.
Die petrolprys is tot dusver volgens ’n model van die Noordwes-Universiteit bereken.
Die departement van minerale en energie ontwerp tans ’n nuwe model.