In ’n saak wat die land se telekommunikasie-landskap ingrypend verander, het die Pretoriase hooggeregshof Vrydag die kommunikasiereguleerder ’n uitklophou gegee.
Die telekommunikasiegroep Altech het in April vanjaar die hooggeregshof genader ten einde klarigheid te kry oor sekere regulasies wat deur die Onafhanklike Kommunikasie-owerheid van Suid-Afrika (Okosa) in November verlede jaar uitgereik is.
Die dispuut het gehandel oor die omskakeling van waardetoegevoegde netwerkdienste-lisensies (VANS-lisensies) na individuele elektroniese kommunikasienetwerkdienste-lisensies (IECNS-lisensies).
Die omskakeling van die lisensies is oorspronklik deur Okosa geïnterpreteer as dat VANS nou hul eie telekommunikasienetwerke kan bou deur óf van Telkom se bestaande netwerke óf dié van die tweede-vastelynnetwerk gebruik te maak.
Maar in November verlede jaar besluit Okosa toe anders en skakel net ’n handvol VANS-lisensies om na IECNS-lisensies tot groot ontsteltenis van ander.
Altech was nie een van die gelukkiges nie en nadat kommunikasie met Okosa op niks uitgeloop het nie, sleep die maatskappy toe die reguleerder in April hof toe.
Die hooggeregshof het Vrydag beslis dat Altech sy eie telekommunikasienetwerk kan bou.
Volgens mnr. Sekgoela Sekgoela, woordvoerder van Okosa, sal die reguleerder die inhoud van die hofuitspraak bestudeer en die pad vorentoe bepaal.
Mnr. Craig Venter, uitvoerende hoof van Altech, sê dié hofbeslissing maak die speelveld nou vir VANS gelyk.
Maar gaan dit beteken dat ons meer en meer gaan sien dat strate vir die lê van kabels opgekap gaan word?
“Nee,” sê Venter. “Daar is net ’n handvol diensverskaffers wat oor die finansiële vermoë beskik om hul eie netwerke te bou. Dit sal minstens R1 miljard kos om ’n netwerk nasionaal uit te rol.”
Mnr. Arthur Goldstuck, kommunikasie-ontleder en uitvoerende hoof van World Wide Worx, sal groter VANS wel nasionale netwerke kan oprig terwyl kleiner VANS eerder op spesifieke streke sal fokus en dan met groter netwerke sal inskakel.
“Dié hofuitspraak open die mark vir meer deelnemers,” sê hy. “Dit kan daartoe lei dat ongedienste streke, sektore en belangegroepe nou ook bereik kan word.”
Goldstuck meen egter die hofuitspraak werp die kollig op die ondoeltreffendhede van reguleerders.
“Dit lig die ondoeltreffendhede van bestuurde liberalisering uit waar soveel gevestigde belange teen liberalisering baklei. Hoewel daar ’n beleid van bestuurde liberalisering is, vind ’n mens dat daar in der waarheid niks van die aard is nie.”