’n Omstrede wetsontwerp oor die bestuur van grondgebruik is op die lange baan geskuif nadat die parlementêre portefeuljekomitee vir grondsake dit die groen lig gegee het.
Munisipale raadslede en lede van die provinsiale wetgewers sou daarvolgens enige seggenskap verloor het oor die bestuur van grondgebruiksregte.
Dié wending kom kort nadat dieselfde komitee aanvanklik die onteieningswetsontwerp sterk gesteun het, maar blykbaar ná kritiek uit talle oorde koue voete gekry en dit teruggetrek het.
Dié twee wette hou met mekaar verband en is wyd deur burgerregtegroepe en opposisiepartye gekritiseer omdat dit volgens hulle onder meer ongrondwetlik sou wees.
Die Suid-Afrikaanse Instituut vir Beplanners (SAIB) het die departement van grondsake gister skerp gekritiseer oor sy hantering van die voorgestelde wet op die bestuur van grondgebruik.
Volgens die SAIB werk die departement al agt jaar aan die nuwe wet.
Vroeëre insette deur onder meer die SAIB, Cosatu, die Community Law Centre en die munisipale vereniging Salga is volgens die SAIB geïgnoreer en die departement het voortgegaan om ’n ontoereikende wetsontwerp aan die portefeuljekomitee voor te lê, wat dit aanbeveel het.
Dit is nie duidelik waar die opdrag vandaan kom dat dit nou teruggehou word nie.
Mnr. Ruben Mohlaloga, voorsitter, het eergisteraand gesê hy het nog nie amptelike bevestiging gekry dat dit teruggehou word nie.
’n Debat oor die wetsontwerp is egter teen die normale verloop in nie in die nasionale vergadering se program ingesluit nie.
Die proses om die huidige wette oor grondgebruik te verander kom volgens die SAIB nêrens nie en grondgebruik stem vandag nog ooreen met die apartheidsbeginsels van skeiding en afsonderlikheid.
Grondgebruiksbeplanning in Suid-Afrika is volgens die SAIB koersloos.
Die organisasie sê die departement is nie daartoe in staat om grondliggend nuut te dink oor wetgewing wat ruimtelike ontwikkeling reël nie en ploeter al agt jaar voort.
Die SAIB het daarom besluit om organisasies in die burgerlike samelewing wat ’n belang by die saak het, byeen te roep en ’n raamwerk daar te stel vir gepaste wetgewing.
Dít sal dien as ’n grondslag vir toekomstige gesprekke met die departement van grondsake en die regering as geheel.
Mnr. Kallie Kriel, uitvoerende hoof van die burgerregte-organisasie Afriforum, wat albei wette sterk teengestaan het, het gesê dis goeie nuus dat die wet vir eers teruggehou word.
Dit is volgens hom ’n uitvloeisel van die feit dat die Onteieningswet teruggehou is.