Venezuela se olietenkskepe sal een van die dae nie meer by Suid-Afrika verbyvaar nie.
Hulle sal hier vasmeer en olie aan Suid-Afrika verskaf, het pres. Hugo Chávez van Venezuela gister onderneem.
Suid-Afrika en Venezuela het gister ’n energiesamewerkingsooreenkoms onderteken wat aan PetroSA toegang tot dié Suid-Amerikaanse land se oliereserwes gee.
Volgens mnr. Sipho Mkhize, uitvoerende hoof van PetroSA, gaan dié staatsonderneming binne ’n maand ’n tegniese span na Venezuela stuur. Ingevolge die ooreenkoms kry PetroSA gedeeltes in die olieryke Orinoco-gebied waar hulle na die swart goud kan soek.
Dit sal volgens Mkhize ses maande duur om die moontlikhede daar te ondersoek en na verwagting sal dit een bestaande olieveld en ’n nuwe een insluit.
Nuwe tegnologie en die hoër olieprys maak die ontginning van oliebronne moontlik wat vroeër te duur was. Die wêreld se grootste oliereserwes lê in dié gebied, het Chávez gesê.
“Ons het nie baie reserwes nie en ons kyk na alternatiewe bronne. Tans kry ons die meeste van ons olie van die Midde-Ooste en ’n deel uit die res van Afrika,” het Mkhize aan Sake24 gesê.
Suid-Afrika is die eerste Afrika-land wat toestemming kry om op dié manier in Venezuela olie-eksplorasie te doen.
Reuters berig dat mnr. Everton September, adjunk-president van PetroSA se eenheid vir nuwe ondernemings, verlede maand gesê het dat olie van Venezuela dalk vir PetroSA se VSA$7 miljard-raffinadery by Coega bestem kan wees. Dié raffinadery sal na verwagting 250 000 vate per dag kan lewer en Suid-Afrika in staat stel om olie na Suider-Afrika uit te voer.
Wat betref Venezuela se omstrede nasionaliseringsbeleid, het pres. Thabo Mbeki gesê Suid-Afrika hou dié proses dop. “Die boodskap is dat Venezuela sy hulpbronne gebruik om die lewensgehalte van sy mense te verbeter.”
Volgens Mbeki sal ’n strategiese vennootskap tussen Suid-Afrika en Venezuela beteken die lande kan by mekaar leer.