Verbruikers wat per dag in die Sandtonse sakegebied parkeer, steek die hand veel dieper in die sak as dié in die res van die land.
Op ’n maandgrondslag loop Kaapstad egter loshande voor met die hoogste parkeertariewe, volgens ’n nuwe verslag deur Colliers International.
Om ’n dag in Sandton te parkeer kos $10,02 (sowat R77,5), maar op ’n maandgrondslag $81,41 (sowat R630). Daarteenoor dok verbruikers in die Moederstad $137,77 (sowat R1 074,6) per maand op en $9,02 (sowat R70,3) per dag.
Dié tariewe sluit dié in die Kaapstadse middestad, die Waterfront en Roggebaai (in die omgang bekend as die strandgebied) in.
Ook op die lys van duur parkeerplek in Suid-Afrika is Century City, ook in Kaapstad, waar dit $8,02 (sowat R62,5) per dag kos en $87,67 (sowat R684) per maand.
Die stadskern van Johannesburg volg met tariewe van $6,26 (sowat R49) per dag en $86,42 (sowat R674) per maand.
“Dit is egter relatief goedkoop vergeleke met die res van die wêreld omdat Suid-Afrikaanse parkeerplek nie die lys van die top-25- duurste parkeergebiede ter wêreld haal nie, sê me. Sanett Uys, direkteur van Colliers Property and Facilities Management in Suid-Afrika.
Die stad met verreweg die duurste parkeerplek is Londen, waar ’n parkeerplek in die sentrale sakegebied $1 166,87 (nagenoeg R9 101,5) per maand kos en die West End waar maandelikse parkeertariewe $1 135,76 (sowat R8 859) beloop.
Die goedkoopste stad waar jy jou motor kan parkeer, is Nieu-Delhi met ’n daaglikse tarief van $1,75 (sowat R13,65).
Mnr. Jacques du Toit, senior eiendomsontleder by Absa se huisleningsafdeling, sê Kaapstad het tradisioneel nog altyd parkeerprobleme gehad weens ’n gebrek aan ruimte. “Dié stad word beperk deur die see aan die een kant en die berg aan die ander kant.”
Hy sê wat Londen betref, toon die syfers die implikasie van die konsentrasie mense in dié stad, ten spyte daarvan dat daar so ’n goed funksionerende vervoerstelsel is.
Uys sê ’n probleem in Kaapstad is die talle ou geboue, waar slegs een tot twee parkeerplekke per 100 m² (met die ontwikkeling) toegewys is. Die norm vandag is tot 6 parkeerplekke per 100 m².
“Hoewel Suid-Afrikaanse verbruikers beduidend minder vir parkeerplek betaal as hul internasionale eweknieë, gaan parkeergeld ook hier toeneem vanweë ’n groter vraag en ’n beperkte aanbod,” sê sy.