Die Britse regering beskou Suid-Afrika as een van die wêreld se tien top-lande om tans in te belê.
In ’n verslag wat gister uitgereik is, moedig hy sy konstruksie-maatskappye aan om geleenthede soos die Wêreldbeker-sokkertoernooi 2010 te benut om so gou moontlik ’n vastrapplek in die Suid-Afrikaanse mark te kry.
Die Britte bereken Suid-Afrika se toekomsplanne vir infrastruktuur op ?33 miljard en meen die land se vaardigheidstekort open ’n geleentheid vir sy eie sakelui om in te spring. Die verslag is uitgereik deur UK Trade and Investment, Brittanje se organisasie vir internasionale sake-ontwikkeling.
Mnr. Andrew Cahn, uitvoerende hoof, beskou Suid-Afrika boonop as die poort na die res van Afrika. “Deur ’n onderneming in Suid-Afrika te vestig, sal Britse maatskappye ook ’n vastrapplek in Sub-Sahara-Afrika kry,” het hy gesê.
Die verslag, Tomorrow’s Markets, lys die lande met die opwindendste beleggingsmoontlikhede. Die bevindings word gegrond op die menings van die wêreld se voorste sakeleiers en gee “ongelooflike” insig in hul toekomstige sakeplanne. Suid-Afrika word as nommer agt op die lys geplaas.
Benewens die sokkertoernooi, wat as “katalisator” vir groei beskou word, is daar luidens die verslag ook geleenthede om hotelle, woonbuurte sowel as stedelike herlewingsprojekte te ontwikkel.
“Die regering se besteding aan infrastruktuur sal die ekonomiese groei laat versnel tot tussen 4,5% en 6%,” het Cahn gesê. “Die land het ambisieuse planne vir ’n massa-vervoerstelsel, waterprojekte, tronke en hospitale.
“Met hierdie groot beleggingsvooruitsigte in die private sowel as die staatsektor – tesame met ’n ernstige vaardigheidstekort (in Suid-Afrika) – is dit nou die tyd vir Britse maatskappye om gebruik te maak van die konstruksie-moontlikhede,” het Cahn gesê.
Verskeie Britse maatskappye is reeds bedrywig in Suid-Afrika, waaronder Bombardier Transportation UK, wat die nuwe treinvloot vir die Gautrein-projek voorsien.
Viëtnam word as die beste land beskou om in te belê, gevolg deur Mexiko, die Verenigde Arabiese Emirate, die Oekraïne, Indonesië, Singapoer, Pole, Suid-Afrika, Argentinië en Saoedi-Arabië.