Suid-Afrika se swart middelklas het die afgelope jaar met 15% gegroei en bestaan nou uit 3 miljoen mense.
Terselfdertyd het dié groep se bestedingsvermoë met 39% toegeneem tot R250 miljard.
Dié bevindings maak deel uit van die jongste navorsing deur die Universiteit van Kaapstad se Unilever-instituut vir strategiese navorsing en TNS Research Surveys oor die Suid-Afrikaanse swart middelklas – oor die algemeen bekend as swart diamante.
Prof. John Simpson, direkteur van die Unilever-instituut, definieer die term “middelklas” as huishoudings wat meer as R12 077 per maand verdien (die sogenaamde LSM 9-groep en hoër), of individue wat op grond van hul kwalifikasies waarskynlik binnekort dié lewenstandaardvlak sal kan handhaaf.
Voorts sluit dié groep ook die “Cyril Ramaphosa’s van die wêreld” en ander swart sakelui úít wat grootskaals bevoordeel is deur aandeelhoudingstransaksies wat met swart ekonomiese bemagtiging te make het, sê Simpson.
“Wat interessant is, is dat hul bestedingsvermoë in ’n groter mate toegeneem het (39%) as die hoeveelheid individue (15%).
“Dit beteken dat baie van dié mense beter poste as ’n jaar tevore beklee.”
Ten spyte van voorspellings dat dié groep in ’n finansiële krisis gedompel kan word weens die druk van skuld, sê Simpson die teenoorgestelde is eintlik waar. Volgens hom is die swart diamante se skuldvlakke vanjaar reeds laer as met die vorige studie. “ ’n Groot hoeveelheid tref reeds onderskeid tussen ‘slegte’ en ‘goeie’ skuld. Vanuit ’n skuldbestuur-oogpunt doen hulle baie goed.”
Me. Rudo Maponga, TNS Research Surveys se navorsingsbestuurder van die swartdiamante-projek, sê alhoewel dit mag voorkom of dié mark stadiger groei in terme van die hoeveelheid mense (van 30% in 2007 tot 15% in 2008), moet dit binne konteks gesien word. “Ons werk van ’n groter basis af, wat beteken dat groei noodwendig sal begin verlangsaam in persentasie-terme.
“Dit is veral insiggewend dat hul bestedingskrag aanhou groei ten spyte van die ekonomiese afswaai.”
’n Fokus van vanjaar se studie was op die rol van vroue en hoe ekonomiese bemagtiging die tradisionele geslagsrolle in swartdiamant-huishoudings beïnvloed.
Hiervolgens verteenwoordig swartdiamant-vroue die koopkrag van meer as 40% van alle vroue.
Volgens Maponga het die studie ook ondersoek ingestel na die veranderende denkrigtings van verbruikers en die uitwerking wat dit op kooppatrone het.
“Amper die helfte van die vroue wat ondervra is, het gesê hulle verdien meer as 50% van die huishouding se inkomste, terwyl meer as 80% gesê het hulle is die hoof-besluitnemer van die huishouding wat groot aankope betref.
“Dit dui op ’n verskuiwing in geslagsrolle,” sê sy.