Elma Kloppers,
Huiseienaars wat voorheen te alle tye toegang gehad het tot beskikbare ekwiteit in hul verbandlenings, gaan voortaan moet aansoek doen om toegang te verkry tot die geld wat hulle reeds afbetaal het.
Absa Huislenings het gister bevestig dat hy sy Flexi?Reserve Comprehensive-gerief aangepas het, wat beteken huiseienaars sal óf moet aansoek doen om toegang tot hul ekwiteit in hul verbandlening óf in sekere gevalle weer deur die kredietkriteria-proses gaan.
Volgens mnr. Lutando Vutula, besturende hoof van Absa Huislenings, volg die besluit op die daling in huiswaardes die afgelope ses maande.
“Die bank reken toegang tot die oorspronklike verbandlening wat goedgekeur is sonder dat die huis se waarde bevestig is, het die risiko vir die kliënt en die bank verhoog,” sê hy.
Hy sê met dié aanpassing wil die bank verhoed dat kliënte dieper in die skuld raak en gevolglik hul huise op die spel plaas.
Hy verduidelik dat kliënte wat maandeliks ’n bykomende bedrag benewens die vereiste bedrag aan hul verbandlening, afbetaal het, gaan toegang tot dié geld hê deur aansoek te doen om die FlexiReserve Ad?vance Portion-opsie, waarna die geld geredelik beskikbaar sal wees. “Al wat hulle moet doen, is om ’n vorm by hul naaste Absa-tak te gaan invul,” sê hy.
Kliënte wat net die vereiste maandelikse bedrag betaal het en nou toegang wil hê tot die verskil tussen die uitstaande leningsbedrag en die oorspronklike huislening, sal moet aansoek doen om ’n hervoorskot, wat onderworpe is aan die normale kredietkriteria, ingevolge die Nasionale Kredietwet. Ook in die geval waar ’n kliënt se huis meer werd is as die huislening en hy die leningsbedrag wil verhoog, sal hy kennis moet gee vir ’n hervoorskot-opsie, wat ook sal gepaardgaan met die normale kredietkriteria, insluitend finansiële state, bewys van inkomste en uitgawes, en skuldprofiel.
Vutula sê briewe is reeds uitgestuur aan kliënte om hulle in te lig oor die aanpassing. Dit sal van vandag af toegepas word.