Nieu-Delhi. – Suid-Afrika, Brasilië en Indië wil die handel tussen hulle teen 2015 tot $30 miljard opstoot.
Dit is die voorneme van die sakeforum op die beraad tussen dié drie lande (Ibsa).
Pres. Kgalema Motlanthe het gister in ’n toespraak gesê hy is beïndruk met dié stap. Dit voer die mikpunt verder om teen 2010 die handel tussen die drie lande tot $15 miljard op te stoot. Dit is tans op sowat $10 miljard.
Intussen het pres. Luis Inacio Lula da Silva van Brasilië op die beraad gesê die finansiële krisis is die ryk lande se skuld en dat hulle daarvoor aanspreeklik gehou moet word.
Ontwikkelende lande, het hy gesê, is die slagoffers omdat hulle nou moeiliker en duurder toegang tot finansiering gaan kry.
Dit kan dié lande se groeivooruitsigte bederf.
“Dit is onaanvaarbaar dat ons moet betaal vir die onverantwoordelikheid van die spekuleerders wat die wêreld in een groot dobbelhuis verander het,” het hy gesê.
“Dan probeer hulle óns nog leer hoe ons ons lande moet regeer.”