’n Groen leefstyl, sonpanele en energiedoeltreffendheid is nie meer esoteriese konsepte nie, maar werklikhede in ’n moderne wêreld wat geraak word deur aardverhitting en ’n groter fokus op omgewingsbewaring.
Mnr. Andrew Schaefer, besturende direkteur van die residensiële verhuring- en eiendombestuursmaatskappy Trafalgar, sê teen dié agtergrond en die Eskom-krisis, beweeg beheerliggame van geboue in die rigting van energiedoeltreffende oplossings.
Kenners is dit eens dat dit makliker is om sulke oplossings in die ontwerp- en konstruksiefase toe te pas as om bestaande geboue meer eko-vriendelik te maak.
“Die ware Jakob is om die gebou reg te bou in die eerste plek. Om dit wat reeds daar is groener te maak, kom met uitdagings,” sê mnr. Michael Schirnig, besturende direkteur van Alchemy Advisors, ’n konsultasiemaatskappy wat na die belange van huurders omsien.
Schaefer meen in ’n omgewing waar die vraag na elektrisiteit die aanbod oorskry en ekonomiese groei verder druk sal plaas op Eskom om in die vraag te voorsien, het inwoners ook ’n maatskaplike verantwoordelikheid om eko-vriendelike beginsels in hul huise en werkomgewing toe te pas.
Hy sê in die buiteland begin huurders reeds eiendom oorweeg wat aan groen-beginsels voldoen. “Dié opvatting gaan in die volgende dekade ook hier begin posvat,” sê hy.
Onder die eko-vriendelike oplossings wat ontwikkelaars in die konstruksiefase kan toepas, sluit in sonpanele, energie-doeltreffende ligte en die herwinning van grys water om dit vir tuinbou te gebruik.
In bestaande geboue kan oorgeskakel word na energie-doeltreffende ligte en die gebruik van natuurlike lig deur middel van dakvensters. “Hoewel die oplossings aanvanklik duur is om toe te pas, kan die veranderings tot beduidende koste-besparings lei op middel- en lang termyn, terwyl ’n betekenisvolle bydrae tot die omgewing gemaak word, sê hy.
Schirnig daarteenoor glo die omskakeling van bestaande geboue na groener ruimte gaan nie maklik gebeur nie.
Hy sê die een vraag wat ontstaan, is wie gaan daarvoor betaal. Die gebou-eienaar sal dit slegs doen indien hy dan die huur kan opstoot, meen hy. Omdat huurders gewoonlik vir tussen drie tot vyf jaar huur, gaan hulle nie noodwendig die langtermynvoordele van kostebesparings geniet nie.
“In die geval van ’n eienaar-okkupeerder het dit natuurlik sin om die gebou meer eko-vriendelik te maak omdat die eienaar dan die voordele kan geniet.”
Hy glo egter die besluit om groener te ontwikkel in Suid-Afrika is in dié stadium meer van ’n emosionele oorweging as ’n finansiële besluit.