Konstruksie aan ’n nuwe sewe-verdieping-woonstelgebou in Bromwellstraat, Woodstock, het onlangs begin.
Die gebou word deur Coessa Holdings ontwikkel en heet 360º en word in ’n kontemporêre styl van siersteen en glas gebou. Dit sal na verwagting teen Mei 2009 voltooi wees.
Volgens Pam Golding Eiendomme (PGE) wat die ontwikkeling bemark, is 70 van die 72 woonstelle reeds verkoop. Twee van die dakwoonstelle is nog beskikbaar.
Die eenman-, een-, en tweeslaapkamerwoonstelle se grootte wissel van 40 m² tot 70 m² en die pryse wissel van R645 000 tot R850 000.
Volgens me. Bev Bloch van PGE gaan die gebou se moderne tegnologiese veiligheidsmaatreëls toegangbeheer deur middel van vingerafdrukherkenning insluit. Die ontwikkeling sluit in gemeenskaplike ontspanningsgeriewe soos ’n onthaal-area met ’n dakswembad, braai-area en ’n buitelug-drafbaan om die dak se rand.
Me. Laurie Wener, PGE se direkteur vir die Wes-Kaapse metrostreek, sê Woodstock is besig om stadig maar seker te vernuwe. Sy sê dit bied ’n nuwerwetse lewenstyl naby die middestad.