Die rol van kommersiële eiendom as ’n drywer van ekonomiese groei gaan in die kollig wees op die komende 40ste jaarlikse konvensie van die Suid-Afrikaanse Vereniging van Eiendomseienaars (Veesa).
Op die geleentheid wat van 28 Mei tot 30 Mei in Kaapstad gehou word en deur Nedbank Corporate geborg word, sal kenners debatteer oor hoe rolspelers in die bedryf in uitdagende globale markomstandighede moet optree om waarde te ontsluit.
Onder die deelnemers aan ’n sessie genaamd Harnessing the Property Sector for Economic Development, tel me. Angelique de Rauville, hoof van Investec Genoteerde Eiendomsbeleggings, mnre. Wayne van der Vent, eiendomshoof van die Openbare Beleggingskorporasie (OBK), en Sizwe Nxedlana, eiendomsekonoom van Standard Bank.
De Rauville glo as ’n beginpunt vir die eiendomsektor is dit veral makro-ekonomiese grondbeginsels, wat versigtig bestuur moet word. Sy sê stygende inflasie en die gevolglike hoër rentekoerse sal eiendomsbeleggings en ontwikkeling onder druk plaas.
Nxedlana voer aan dat dié faktore geleenthede inhou vir beleggers en huiskopers.
Nóg ’n belangrike kwessie wat onder bespreking gaan kom, is misdaad in Suid-Afrika. Om misdaad in bedwang te hou, is al meer as ’n dekade lank op die stedelike agenda, maar daar word gevoel dat dit nie effektief bestuur word nie. Dit het ’n beduidende impak op kommersiële eiendom in die land.
Een van die paneellede wat dié kwessie gaan bespreek, is die skrywer Anthony Altbeker, wat onlangs A Country at War with itself: SA’s Crisis of Crime gepubliseer het.
Hy sê hoewel die bestuurders van Suid-Afrikaanse stede aangemoedig word om na die New York-ervaring te kyk om hulle te help om misdaad te verminder, is die dinamika van Suid-Afrikaanse stede heelwat anders as die New York van die vroeë 1980’s s’n, en die oplossings moet dus ook anders wees.