Positiewe nuus aan die beleggingsfront is skaars en dit raak toenemend moeilik vir eiendomsbeleggers om nie ontmoedig te voel oor hul beleggings nie.
Talle wonder deesdae of dit nie tyd is om te verkoop nie, spesifiek gesien teen die agtergrond dat mnr. Tito Mboweni, president van die Reserwebank, kontantbeleggings soveel aantrekliker laat lyk met sy voortgesette rentekoersverhogings.
Eiendomsbeleggers moet egter nie uit die oog verloor nie dat die Suid-Afrikaanse genoteerde eiendomsektor nou ’n inkomste-opbrengs bied wat 38% hoër is as ses maande gelede, volgens Catalyst se nuutste maandverslag.
Die rede daarvoor is dat hoewel waardes afgekom het, groei die inkomste steeds stewig, wat beteken ’n belegger gaan ’n hoër inkomste kry, afhangende van sy beleggingshorison, sê mnr. Paul Duncan, beleggingsontleder by Catalyst.
“Op lang termyn bly die vooruitsigte vir goeie inkomstegroei gunstig omdat die onderliggende beginsels van eiendom steeds geld,” sê hy.
Die groei word gedryf deur stewige huurgroei van huurkontrakte wat verval sowel as deur kontraktuele eskalasies op die huurkontrakte wat nie verval nie.
Dié huurgroei word ondersteun deur lae leegstaansyfers in al die kommersiële eiendomsektore, wat volgens data van die Investment Property Databank (IPD) teen die einde van verlede jaar 3,1% was.
Duncan sê onder normale omstandighede reageer markkragte op ’n onvoldoende aanbod van ruimte deur nuwe ruimte te bou.
Onder die huidige marktoestande is daar verskeie struikelblokke om ’n nuwe aanbod na die mark toe te bring.
Dit sluit in hoë bou- en materiaalkoste, stygende finansieringskoste, tekorte aan gesoneerde grond wat van dienste voorsien is en Eskom se moratorium op elektrisiteitsertifikate vir nuwe ontwikkelings.
Die kommersiële eiendomsmark gaan dus gebuk onder ’n sterk vraag, maar ’n onvoldoende aanbod, wat verdere opwaartse druk op huurgeld sal plaas, sê hy.
Die vertoning van genoteerde eiendom is die afgelope ses maande grootliks gedryf deur verswakkende makro-ekonomiese faktore en kapitaalmark-verwagtings.
Hy sê die mark faktor steeds ’n groot gedeelte van die onsekerheid in wat betref die vooruitsigte. “Solank as wat die onsekerheid met ons is, sal genoteerde eiendomspryse wisselvallig bly.”
Die Suid-Afrikaanse genoteerde eiendomsindeks het in April ’n totale opbrengs van -6,29% gelewer.