’n Toename in die migrasie van inwoners uit groot metropolitaanse gebiede na die Suid-Kaap en die Tuinroete lei tot buitengewone groei in die streek.
Nie net het die streek bogemiddelde jaarlikse ekonomiese groei die afgelope vyf jaar ervaar nie, die residensiële mark het ook in die eerste kwartaal van vanjaar beter as op nasionale vlak vertoon. Dié inligting volg op ’n spesiale ondersoek deur Eerste Nasionale Bank (ENB), waar een uit elke twee eiendomsagente in die Tuinroete ’n toename in migrasie opgemerk het in die eerste kwartaal.
Die groot attraksie van die gebied is sy natuurskoon en die hoë gehalte van die leefstyl wat dit bied.
Volgens me. Lynette Nicholson, hoof van navorsing by ENB se huisleningsafdeling, het die residensiële mark in die streek nie die landwye afplatting in huisprysgroei vrygespring nie, maar tog beter gevaar. “Sowat 72% van die eiendomme in die Tuinroete-streek het vir minder as die vraprys verkoop in die eerste kwartaal, teenoor 83% nasionaal.”
Mnr. John Loos, eiendomsontleder van ENB se huisleningsafdeling, beskryf George as die hoofdrywer van groei en al het bedrywigheidsvlakke (die volume transaksies) in die dorp se eiendomsmark met 38% op ’n jaargrondslag afgeneem, is daar stewige huisprysgroei van 27% op ’n jaargrondslag behaal in die eerste kwartaal van vanjaar. Die gemiddelde huisprys daar is tans R1,03 miljoen.
Hy sê daarteenoor het Knysna en Plettenbergbaai swakker gevaar. In Knysna het bedrywigheidsvlakke met 41% afgeneem en het huispryse met 27% op ’n jaargrondslag gedaal. In Plettenbergbaai het volumes afgeneem met 21% op ’n jaargrondslag, maar groei in huispryse was 3% op ’n jaargrondslag.
Hy sê George en omgewing kan in die snels groeiende ekonomiese streek in Suid-Afrika ontwikkel.
“Hoewel die reële ekonomieë van die Wes-Kaap en Gauteng met ’n gemiddelde van meer as 5% per jaar toegeneem het die afgelope vyf jaar, het die Eden-gebied, wat insluit Heidelberg, Riversdale, Mosselbaai, George, Oudtshoorn en Knysna, se reële ekonomie volgens Globalinsight met ’n gemiddelde van meer as 9% gegroei van 2003 tot 2007.”
Dit beteken dat die Tuinroete en die Suid-Kaap een van die belowendste gebiede is vir residensiële eiendom en dat sy vinnig groeiende ekonomie groot werkskepping en ’n toename in koopkrag tot gevolg het.
Nicholson sê die grootste uitdaging vir die gebied is dat vinnige groei sy ekonomie kan verdubbel in minder as ’n dekade. “Die owerhede moet ontwikkelings goed beplan om te verseker dat die leefstyl-trekpleister van die gebied behoue bly.”