Elma Kloppers,
Superryk Suid-Afrikaanse eiendomskopers sal in die wolke wees met die beleggingsgeleentheid om in ’n argitektoniese meesterstuk in Chicago, Illinois, te belê.
Nie net gaan die nuwe Chicago Spire met sy 150 verdiepings wat 609,6 m die lug in spiraal, die hoogste residensiële gebou ter wêreld wees nie, dit sal ook die hoogste gebou in die VSA wees.
Die ontwikkeling aan die oewer van die Michigan-meer kom teen ’n koste van meer as $2 miljard en sal oor 1 194 individuele tuistes beskik.
Die gebou is die afgelope week in Suid-Afrika bekend gestel deur die Ierse eiendomsontwikkelingsmaatskappy Shelbourne Development en die Pam Golding Eiendomsgroep (PGE) se internasionale afdeling, wat die verkoopsmandaat verkry het deur sy verbintenis met Savills in Brittanje.
Dr. Andrew Golding, uitvoerende hoof van PGE, sê uit ’n beleggingsoogpunt is daar nie nog so ’n geleentheid soos die Chicago Spire nie. Hy sê dit is ’n uiters luukse produk, wat groot byval sal vind by “blieng”-kopers die wêreld oor. Pryse begin op $800 000 (sowat R6,085 miljoen) vir ’n eenheid van 50 m² en die superluukse dakwoonstel van 1 000 m² is in die mark teen $40 miljoen (sowat R305 miljoen). Dié woonstel beslaan die 141ste en 142ste verdiepings en Golding sê daar is reeds belangstelling.
Mnr. Ivan Murphy, internasionale president van Shelbourne, sê die ontwikkeling is al in Chicago, Dublin, Singapoer, Kuala Lumpur, Hongkong en Shanghai bekend gestel en verkope is op dreef om die teiken van tussen 300 en 400 eenhede teen September te haal.
Hy sê beleggers word gelok deur die pakket wat huurgeld van 7,5% vir die eerste twee jaar ná voltooiing waarborg. “Dié waarborg is voldoende om die verbandpaaiemente, jaarlikse belasting en dienskoste te verhaal, wat beteken daar is geen koste binne die eerste twee jaar nie.” ’n Deposito van 15% ver?seker vir ’n koper een van die eenhede en die res volg teen voltooiing in 2012. ’n Belegger sal dus kapitaalgroei ervaar in die tyd wat die gebou onder konstruksie is en dan twee jaar van verdere kapitaalgroei nadat dit voltooi is.
Die gebou is ontwerp deur die wêreldbekende argitek, Santiago Calatrava en voldoen aan eko-vriendelike standaarde.
Onder dié kenmerke tel waterbesparing waar reënwater opgevang word vir besproeiingsdoeleindes, die optimale gebruik van natuurlike lig en konstruksiemateriale wat die maksimum herwinbare inhoud bevat.
Daar sal altesame 17 hysbakke wees en die gemiddelde wagtyd vir ’n hysbak sal 35 sekondes wees.