Huiseienaars en beleggers moet nog net vir 18 moeilike maande vasbyt. Daarna sal daar lig in die huismarktonnel wees.
In ’n verslag oor residensiële eiendom as ’n belegging voorsien Absa dat ekonomiese toestande laat in 2009 gaan verbeter, grootliks as gevolg van verwagte laer inflasie.
Dit kan rentekoerse tot 14% laat afneem aan die einde van volgende jaar en tot 12,5% van 2010 tot 2012, sê mnr. Jacques du Toit, senior eiendomsontleder van Absa se huisleningsafdeling.
Hy verwag dat gunstiger rentekoerse nominale huispryse teen 10,8% kan laat groei in 2010, teen 12,1% in 2011 en teen 12,7% in 2012. In reële terme word prysgroei van 5,1% vir 2010 voorsien, 6,5% in 2011 en 7,1% in 2012.
Voor dan, meen hy, is dit belangrik dat eiendomsbeleggers deur die huidige afwaartse siklus moet kyk en fokus op hul inkomste-opbrengs en positiewe reële kapitaalgroei vanaf 2010. Hoewel beleggers in die volgende 18 tot 24 maande nie positiewe reële kapitaalgroei moet verwag nie, sal ’n toename in die vraag na huureiendom tot ’n aanvaarbare inkomste-opbrengs lei.
Gegrond op die nuutste huisprys-tendense sal huiseienaars wat die afgelope jaar gekoop het en nou verkoop, nie veel van ’n wins, indien enige, in nominale terme realiseer nie. In Junie vanjaar het nominale huispryse maar teen 3,8% op ’n jaargrondslag toegeneem met byna geen groei sedert begin vanjaar nie. In reële terme daal huispryse sedert Desember verlede jaar, wat beteken dat die huiseienaar wat die afgelope twee jaar gekoop het geen wins gaan realiseer nie en selfs ’n verlies kan ly, sê hy.
Eienaars wat egter 5 tot 10 jaar terug gekoop het, sal steeds ’n aanvaarbare wins maak in reële én nominale terme.
Hy sê histories was residensiële eiendom nog altyd ’n goeie belegging, vergeleke met ander bateklasse, gegrond op die bruto interne opbrengskoers (IOK).
Dié koers sluit kapitaalgroei en die inkomste wat uit die bate verkry kan word in, voordat instandhoudingskoste, tariewe en belasting afgetrek is. Hy sê oor 5, 10, 15 en 20 jaar, het ’n belegging in residensiële eiendom in Suid-Afrika inflasie en die meeste ander bateklasse geklop.
“As al die relevante neigings en faktore wat ’n impak op die eiendomsmark en sy vertoning het in ag geneem word, bly eiendom ’n goeie belegging.”
Uit ’n beleggingsoogpunt sal die tweede helfte van vanjaar en volgende jaar dus die tyd wees om te koop, sê hy.