Die nuwe-generasie-luukse kantoorgeboue in die land se belangrikste kantoornodusse haal tans die hoogste huurgeld nóg.
Dié sogenaamde P-graad-kantoorruimte, geboue van wêreldgehalte met ’n prima adres, haal bruto huurgeld van tot R220/m² per maand in Kaapstad, sê mnr. David Green, besturende direkteur van Pace Property Group.
Die jongste navorsingsverslag oor kantoorleegstaansyfers van die Vereniging van Eiendomseienaars van Suid-Afrika (Veesa) vir die tweede kwartaal van vanjaar, toon dat ’n stewige vraag na alle kantoorruimte leegstaansyfers in die kantooreiendomsektor tot in enkelterrein laat afneem het. Green sê die landwye gemiddelde leegstaansyfer vir kantore is sowat 6%.
Hy sê P-graad-ruimte is grootliks beskikbaar in Sandton, die V&A Waterfront, die Kaapstadse middestad en Century City. “Van die 1,2 miljoen m² se kantoorruimte in Sandton, is 153 000 m² P-graad en van ’n totaal van 84 000 m² by die V&A is 37 000 m² P-graad. In die Kaapstadse middestad is 25 000 m² uit ’n totaal van 710 000 m² P-graad en in Century City 16 000 m² uit ’n totaal van 153 000 m². ”
Hy sê die hoogste maandelikse bruto huurgeld van R220/m² vir P-graad-kantore in Kaapstad word behaal by die Convention Tower-gebou, langs die Kaapstadse Internasionale Konvensie-sentrum. By die V&A is dit R180/m² en in Sandton R150/m².
Hy sê die vraag na prima kantore gaan meebring dat daar geen ou kantoorgeboue in Sandton gaan wees nie, omdat die geboue wat sedert 1970 daar opgerig is omvattend opgegradeer word tot A-graad-ruimte. Dit volg op toenemende belangstelling van buitelandse ondernemings wat in die ekonomiese hart van die land wil wees.
Die verrassing in die Veesa-verslag is dat die leegstaansyfer van kantooreiendom in die middestad van Johannesburg tot die laagste vlak in tien jaar afgeneem het.
Dié leegstaansyfer het in die tweede kwartaal van vanjaar tot 9,9% geval van 15,1% ’n jaar gelede.
Me. Marna van der Walt, uitvoerende hoof van die eiendomsdienstegroep JHI, sê die groep hanteer die verhuring van verskeie geboue in Mainstraat en ervaar groot belangstelling van onder meer inbelsentrums, ondernemings wat hul administrasie- en proseskantore daar hou en opkomende entrepreneurs. “Huurtariewe vir kantore in die gebied is allesbehalwe goedkoop, maar dit bied steeds waarde vir geld,” sê sy.
“Bruto huurgeld van tussen R50/m² (B-graad) en R85/m² (A-graad) word tans verkry.”