Die vuurwarm debat wat heers oor “twyfelagtige” VPIX-statistiek steun die argument vir onveranderde rentekoerse – of selfs ’n verlaging – op die volgende vergadering van die monetêrebeleidskomitee oor drie weke.
Rolspelers in die eiendomsbedryf reken só ’n stap sal die druk op verbandterugbetalings vir huiseienaars verlig.
Hulle moet egter nie te opgewonde raak nie, omdat ekonome meen die inkomende inflasiemandjie is ook kritiseerbaar.
Mnr. Gerhard Kotzé, uitvoerende hoof van die ERA-eiendomsgroep, sê gegrond op die debat rondom die VPIX-statistiek bestaan daar ’n groot moontlikheid dat verbandkoerse onregverdig hoog is.
Hy verwys na die verslag deur Investec wat aandui dat die “korrekte” VPIX sowat 2% laer moet wees as die amptelike syfer wat deur Statistieke Suid-Afrika (SSA) verskaf is.
“Dit wek kommer dat verbandkoerse te hoog kan wees gegrond op moontlik twyfelagtige berekenings ten opsigte van die VPIX,” sê hy.
Die eiendomsmark kan dus onnodig onder druk geplaas word, soos gesien kan word in die afname in huisverkope, dalende pryse en ’n styging in die aantal beslagleggings op eiendom omdat eienaars nie meer hul verband- terugbetalings kan bybring nie.
Prof. Carel van Aardt, hoof van inkomste- en bestedingsnavorsing van die buro van marknavorsing by Unisa, sê sowel die bestaande as die inkomende VPI-mandjie kan gekritiseer word vanuit ’n ekonometriese perspektief.
“Die bestaande mandjie se items en itemverspreiding is verouderd, gegewe nuwe produk- en dienstendense, terwyl die inkomende mandjie gegrond is op die 2005-inkomste en bestedingstudie, waarvan die items en itemverspreiding hoogs aanvegbaar is, gemeet teen ander beskikbare navorsing en databasisse ten opsigte van besteding.”
Hy reken die ware inflasiesyfer in Suid-Afrika lê waarskynlik iewers tussen die bestaande bestedingsmandjie en die inkomende bestedingsmandjie.
“Die rede is dat die bestaande mandjie te swaar gewigte verskaf vir sekere produkte, wat veral deur armer en die laer-middelklashuishoudings gebruik word, terwyl die inkomende mandjie te lae gewigte daaraan verskaf.”