Minder superduur huise word tans verkoop, maar dié wat verkoop word, behaal steeds superpryse.
Hoewel die ultraluukse huismark (bokant R10 miljoen) ook aan die verkoopsvolumekant geraak is deur die uitdagende ekonomiese klimaat, toon nuwe navorsing dat pryse in sommige luukse gebiede met tot byna 50% gestyg het die afgelope twee jaar.
Dié navorsing deur The Knowledge Factory se South African Property Transfer Guide (SAPTG), toon dat Sandhurst in Gauteng ’n astronomiese toename van 49,1% in die gemiddelde oordragwaardes getoon het, hoewel volumes met 10% afgeneem het.
Mnr. Dieter Deppisch, nasionale opleidingsbestuurder van die SAPTG, sê ’n huis in Sandhurst wat in 2005 vir R17,5 miljoen gekoop is, is onlangs vir R59 miljoen verkoop.
Soortgelyk het pryse in Sandown met gemiddeld 17,2% toegeneem.
Verkoopsvolumes het egter met 28% afgeneem.
In Bryanston het pryse met gemiddeld 31,2% toegeneem terwyl volumes met 10,5% gedaal het.
Die neiging om duurder huise te koop, stem ooreen met die sterk groei in die aantal huishoudings in die boonste ekonomiese kategorie die afgelope tien jaar, sê mnr Jacques du Toit, senior eiendomsontleder van Absa se huisleningsafdeling.
Hy sê hoewel ’n sterk ekonomiese vertoning ’n rol daarin gespeel het, hou dit ook in ’n mate verband met arbeidsbeleid.
Volgens Global Insight se navorsing het ’n totaal van 51 864 huishoudings in Suid-Afrika in 1996 ’n bruto jaarlikse inkomste van R600 000 en meer verdien, wat 0,55% was van die totale 9,4 miljoen huishoudings.
In 2007 was die getal huishoudings in dié inkomste-kategorie 670% hoër op 399 419 uit ’n totaal van 13,1 miljoen.
In 1996 het 6 010 huishoudings ’n jaarlikse inkomste van R1,2 miljoen verdien, 0,06% van die totale 9,4 miljoen huishoudings.
“In 2007 was dit ’n astronomiese 1 553,5% hoër op 99 374 huishoudings, wat 0,76% uitgemaak het van ’n totaal van 13,1 miljoen huishoudings.”
Vergeleke met die totale aantal huishoudings bly die persentasie steeds relatief klein.
Hy sê hoewel die luukse huismark nie immuun is teen die negatiewe uitwerking van faktore soos ekonomiese groei, inflasie, rentekoerse en huishoudelike inkomste nie, word huisvesting in die luukse kategorie dikwels nie met verbandfinansiering verkry nie.
“Ryker huishoudings, wat luukse huise en hoër skuldvlakke kan bekostig, het waarskynlik ook meer as een bron van inkomste,” sê hy.
Dit sluit gewoonlik bykomende beleggingseiendomme in wat verkoop kan word, of beleggings in ander bateklasse, wat hulle deur ’n moeilike finansiële tyd kan help.
Onder die gebiede in Suid-Afrika wat die superrykes lok, tel Sandhurst, Bryanston en Sandown in Gauteng, die Atlantiese Kus in die Wes-Kaap en Zimbali aan die Noordkus van KwaZulu-Natal.
’n Goeie voorbeeld van hoe gesog eksklusiewe eiendomme in die land is, is die onlangse rekordprys van meer as R110 miljoen wat vir ’n superluukse dakwoonstel in die V&A Waterfront in Kaapstad betaal is.
Du Toit sê wat die luukse huismark so aantreklik maak, is dat die aanbod van eksklusiewe wonings relatief klein is, maar die vraag is stewig.