Beroepe op die regering om die belasting op brandstof te verlaag het gister opgegaan ná die aankondiging van ’n skokverhoging van R1,30 vir groothandeldiesel wat op 2 April in werking tree.
Petrolpryse word met tussen 66c (95-oktaan) en 68c (91-oktaan) verhoog.
Die skerp dieselprysverhoging sal veral die landbou- en padvragvervoersektor tref.
Die hoër insetkoste vir boere beteken hoër voedselpryse, en hoër vervoerkoste vir afgelewerde produkte beteken algemene druk op inflasie.
Eskom en sakeondernemings se toenemende afhanklikheid van diesel vir noodkragopwekking beteken die 59%-verhoging in dieselpryse sedert April verlede jaar stoot hul bedryfskoste aansienlik op.
Die vakbond Solidariteit het versoek dat die regering die belasting op brandstof, wat van Woensdag R1,27 per liter bedra, tydelik moet verlaag om die impak op verbruikers te versag. Die halvering van die belasting sal minstens April se petrolprysstyging neutraliseer en help om langtermyn- ekonomiese skade te vermy, sê mnr. Jaco Kleynhans, woordvoerder van Solidariteit.
“Die gevaar bestaan dat mense hul huise en motors sal verloor omdat hulle nie hul begrotings kan laat klop nie. Die rentekoersstygings van die afgelope jaar het ook daartoe gelei dat duisende gesinne vanaf April nie meer hul huis- en motorpaaiemente sal kan betaal nie.
“Die regering kan in die loop van die jaar vir die verlies aan inkomste vergoed, maar dit is nou belangrik om na mense uit te reik en ’n grootskaalse ekonomiese krisis te voorkom,” sê Kleynhans.
Mnr. Fanie Brink, besturende direkteur van Biofuels Industry Development, het in ’n verklaring gesê die tyd het aangebreek dat die kleinhandelprys van diesel ook soos dié van petrol gereguleer word.
“Suid-Afrika stuur op ’n baie ernstige brandstof- en voedselkrisis af as die regering nie dringende stappe doen om dit af te weer en betyds vir baie meer realistiese en selfs dramatiese ekonomiese scenario’s tussen 2012 tot 2015 te beplan nie,” sê Brink.
“Daar behoort nou vir ’n ruolieprys van $150 per vat en ’n swakker wisselkoers van tussen R10 en R12 teenoor die Amerikaanse dollar tussen 2012 en 2015 beplan te word, wat brandstofpryse van tussen R12 en R15 per liter of meer tot gevolg kan hê.”
Die jongste styging spruit uit die verswakking van die rand tot meer as R8 teenoor die dollar, en ’n olieprys wat sedert einde verlede jaar bokant $100 per vat bly. Dit val ook saam met ’n verhoging van 6c per liter in brandstofbelasting tot R1,27 en 5c per liter in die Padongelukkefonds tot 46,5c, wat in Februarie se begroting aangekondig is.
Mnr. Hugo Pienaar, ekonoom van die Buro vir Ekonomiese Ondersoek (BEO) op Stellenbosch, sê die duurder brandstof is ’n eksterne faktor waaroor die Reserwebank nie beheer het nie.
Die BEO verwag ’n VPIX-inflasiesyfer van 10% vir Maart en net oor die 10% vir April, wat ’n impak van 0,6 persentasiepunt weens die jongste brandstofprysstyging insluit.
Rentekoersverhogings het reeds verbruikersbesteding begin demp, maar as amptelike inflasiesyfers só styg dat die vakbonde tydens loononderhandelings later vanjaar ook hul pond vleis eis, skep dit die probleem van tweederonde-inflasie, sê Pienaar.