Met dié dat die olieprys bykans elke dag nuwe rekordvlakke bereik, word nóg verhogings in die brandstofprys in Junie verwag. Dit kom nadat Suid-Afrika (en die meeste ander lande) die afgelope maande gebuk gegaan het onder die skerpste prysverhogings nóg.
Die prys van olie vir lewering in Junie het gister in elektroniese verhandeling in New York met 1,9% of $2,29 tot ’n nuwe rekord van $125,98 per vat gestyg, en Brent-ruolie in Londen met 2,3% tot $125,68, berig Bloomberg.
Nigerië het minder olie na die VSA uitgevoer en handelaars skryf die jongste prysstygings daaraan toe omdat dit die VSA se brandstofvoorraad in die somer kan raak.
Die Organisasie van Petroleumuitvoerlande (Opul) se president, mnr. Chakib Khelil, het vandeesweek gesê die olieprys kan binnekort $200 per vat bereik weens die swakker dollar. Hy skryf die hoër olieprys eerder daaraan toe. Sy uitsprake het beleggers na oliefondse gelok, wat die prys opdruk.
’n Ontleder by Commerzbank in Frankfurt voorspel ’n prys van $150 per vat binne die volgende ses maande. Dit kan petrolpryse in Suid-Afrika met nog byna R2 per liter opstoot as die reël van ’n styging van 7c per liter vir elke $1-styging in die olieprys geld.
Die jongste syfers van die departement van minerale en energie toon ’n gemiddelde onderverhaling van 15c op petrol en 22c op diesel van 30 April tot eergister.
Merrill Lynch sê in ’n navorsingsverslag die prys van medium- en swaar swaelryke ru?olie het die afgelope maande teruggesak terwyl mediumsoet ruolie verstewig het. Dit dui op die sterker vraag na diesel en vliegtuigbrandstof, waarvoor mediumsoet ruolie meer geskik is. (Die soet of suur verwys na die swaelinhoud. Hoe meer swael, hoe suurder die ruolie.)
Gewoonlik neem die vraag na diesel in die Noordelike Halfrond in die somer af, terwyl die vraag na petrol toeneem. Dat dit nie tans gebeur nie, is volgens Merrill Lynch te wyte aan die bottelnekke by raffinaderye wêreldwyd, die groter vraag na diesel vir kragopwekking in ontluikende markte en die groeiende vraag in die vervoersektor (vliegtuie, skepe, dieseltreine en dieselvragmotors).
Die gebrek aan buigsaamheid by raffinaderye om aan te pas by die groter vraag na diesel en vliegtuigbrandstof, beteken dat meer petrol vervaardig word waarvoor die vraag nie so groot is soos vir diesel nie. Dit druk raffinaderye se winsmarges op petrol af. Volgens Merrill Lynch sal daar nog vir die volgende drie jaar ’n verskil tussen die pryse van diesel en petrol wees. In Europa is die belasting op diesel laer as op petrol. Dit dra by tot die sterker vraag na diesel.