Die vraag is nie óf daar in Junie ’n verdere rentekoersverhoging gaan wees nie, maar hoe groot die verhoging gaan wees.
“Ons verwag ’n styging van nog 50 basispunte,” sê me. Nazmeera Moola, hoof van makro-strategie van Macquarie Suid-Afrika.
“Dit kan maklik nog 14 maande wees voor verbruikersprysinflasie sonder rentekoerse op huisverbande (VPIX-inflasie) weer binne die teikenband is. Dit is ’n groot bron van kommer vir die Reserwebank,” sê sy.
Moola was verlede week deel van die paneel op ’n Gibs-forum oor ekonomiese vooruitsigte.
Mnr. Dawie Roodt, hoofekonoom van die Efficient Group, was ook deel van die paneel.
“Ons verwag dat VPIX-inflasie tot 2011 bó 6% kan bly, tensy die Reserwebank nou begin optree deur rentekoerse met 100 basispunte te lig,” sê Roodt.
“Ek dink só ’n verhoging sal ook sielkundig wees, soos toe gerugte van ’n noodvergadering van die monetêrebeleidskomitee twee weke gelede rondgevlieg en almal laat regop sit het.
“Ons moet almal wakker skrik en ’n bietjie geskok word om te sien dat die man in die groot swart gebou (mnr. Tito Mboweni) ernstig is.”
Volgens mnr. Lumkile Mondi, hoofekonoom van die Nywerheidsontwikkelingskorporasie (NOK), is die Reserwebank se gebruik van rentekoerse om probleme soos inflasie te probeer oplos, ’n fout.
“Dis net soos die foute wat dr. Ben Bernanke en mnr. Mervyn King (hoofde van die Amerikaanse Federale Reserweraad en die Bank van Engeland) met rentekoerse maak,” sê Mondi.
Dr. Roelof Botha, ekonomiese raadgewer van PricewaterhouseCoopers (PwC) en voorsitter van die paneel, stem saam.
Volgens hom dra die Reserwebank in ’n mate by tot inflasie deur rentekoerse te verhoog.
Roodt sê egter die Reserwebank het gefouteer deur koerse in 2005 en 2006 te veel te sny en deur nie vroeër reeds koerse op te skuif nie.
“Dit was ook ’n fout van die Reserwebank om ’n klompie maande gelede te sê VPIX-inflasie sal geruime tyd op 5,9% bly,” sê Roodt.
“Die inflasieteiken is daardeur effektief van die 3% tot 6%-teikenband tot 6% gelig.”
Ten spyte van die swak inflasievooruitsigte glo Moola steeds dat die Suid-Afrikaanse ekonomiese vanjaar teen sowat 4% kan groei.
Sy sê hoewel sommige ekonome voorspel dat die groeikoers om en by 5% sal wees, is infrastruktuur, die vaardigheidstekort en ook die regulatoriese las op veral nuwe ondernemings steeds groot struikelblokke in die pad van ekonomiese groei.