As die prima rentekoers tot 18% styg, sal dit dieselfde pynlike uitwerking hê as die rentekoershoogtepunt van 25,5% in 1998, waarsku eiendomsontleders.
Hoewel die ekonomiese omgewing nou heel anders lyk as in 1998, meen mnr. John Loos, eiendomsontleder van Eerste Nasionale Bank (ENB) se huisleningsafdeling, dat verbruikers se groot skuld hul pyndrempel om hoër rentekoerse te kan hanteer, aansienlik verlaag het vergeleke met die laat 1990’s.
Huishoudings se skuldverhoudings (hul skuld as persentasie van besteebare inkomste) is op 77,6% die hoogste nóg, en hul skulddienskoste-verhouding op 11,05%, die hoogste sedert die derde kwartaal in 1998 toe dit 14,95% was.
Loos sê daar is ’n sterk korrelasie tussen rentekoersbewegings en die skulddienskoste-verhouding van huishoudings.
As die rentekoers tot 18% sou styg, kan dit die skulddienskoste-verhouding tot 14% opstoot, wat ernstige implikasies vir die residensiële mark inhou. “Só ’n scenario kan daartoe lei dat nominale huispryse op ’n nasionale grondslag daal.”
As die Reserwebank vanjaar ophou om rentekoerse te verhoog, meen hy dat die skulddienskoste-verhouding ’n normale piek van 12% kan bereik.
Hoewel hy nie voorsien dat rentekoerse só hoog sal styg nie, flits die inflasie-gevaarligte steeds, wat slegte nuus inhou vir rentekoerse en die huismark.
Die huismark is reeds geruime tyd onder druk en volgens Absa se nuutste huisprysindeks het reële huispryse (met inagneming van inflasie) in die middelsegment van die mark in Maart met 2,5% op ’n jaargrondslag gedaal. In nominale terme het huispryse in April net teen 6,8% op ’n jaargrondslag gegroei, teenoor die 7,8% in Maart.
Mnr. Jacques du Toit, senior eiendomsontleder van Absa se huisleningsafdeling, sê as rentekoerse tot 25,5% verhoog sou word, sal dit die skulddienskoste-verhouding tot 19,8% laat spring, wat slegte skuld skerp sal laat toeneem en die terugname van groot getalle huise en motors tot gevolg kan hê.
Dít is as aangeneem word dat die skuldverhouding konstant bly op die huidige vlakke.
Hy voorsien nie dat die rentekoers tot 18% kan styg nie en verwag nog ’n verhoging van 0,5 persentasiepunt in Junie, wat die gemiddelde rentekoers vir die jaar op 15,2% te staan sal bring.
Loos sê vir Suid-Afrikaanse verbruikers om terug te keer na ’n skulddienskoste-verhouding van sowat 6,5%, soortgelyk as in 2003, vereis dat rentekoerse afkom tot 8% teen die einde van vanjaar, wat ’n “onmoontlike scenario” is.
Mnr. Ulrich Joubert, ekonoom van Kruger Internasionaal, sê gegewe dat inflasie buite beheer is en waarskynlik so gaan bly tot ná 2010, kan rentekoerse by 18% gaan draai.
“Dit gaan verbruikers vir ’n ses slaan, maar die Reserwebank het geen ander keuse nie.”