Die donker groei- en inflasiewolke oor die ekonomie gaan nie gou wyk nie.
Dit is die boodskap wat die Buro van Ekonomiese Ondersoek (BEO) aan die Universiteit van Stellenbosch gister in sy ekonomiese oorsig vir die tweede kwartaal uitstuur.
Reële groei in die bruto binnelandse produk (BBP) van 3,4% word vir vanjaar voorsien, beduidend laer as 2007 se 5,1%. Die herstel sal eers matig in 2009 kom en dan tot nie meer as ’n waarskynlike 3,8% nie.
Die BEO se vooruitskattings wys dat die regering dalk lelik mistas met sy eie vooruitskattings met mnr. Trevor Manuel, minister van finansies, wat onlangs benadruk het groei van 4% is vanjaar haalbaar.
Mnr. Pieter Laubscher, ekonoom van die BEO, het gesê die risiko is steeds dat groei vanjaar laer as die verwagte 3,4% sal wees. “Die plaaslike ekonomie is onder hewige druk wat neerkom op resessionêre omstandighede,” het hy beklemtoon.
Die ekonomie is in ’n “perfekte storm” met ’n aanslag uit drie oorde. Die een is die swakker globale ekonomiese groei wat aangevuur word deur die subprimakrisis in die VSA en die ander oord die elektrisiteitskrisis in die Suid-Afrikaanse ekonomie. Die twee word nou verder aangevul deur politieke onsekerheid voortspruitend uit die ANC se Polokwane-kongres in Desember 2007.
Verdere rentekoersverhogings is heel moontlik, veral as elektrisiteitstariewe met ’n verdere 20% verhoog word.
Dit help om nie die Reserwebank vir hoër koerse te blameer nie. Die Reserwebank kan nie veel doen oor eksterne skokke in die vorm van hoër voedsel- en oliepryse nie.
“Maar wanneer dit tweederonde-uitkringinflasie veroorsaak, moet die bank optree.”
Die Reserwebank moet koerse verhoog om inflasieverwagtinge in die kiem te smoor. Dié het reeds van 5,9% einde 2007 tot 7,8% opgeskiet en sal na verwagting tot in 2009 bo 7% boer.
Laubscher het gesê as elektrisiteitspryse konserwatief met 20% styg, sal VPIX-inflasie vanjaar gemiddeld 9,3% beloop, heelwat hoër as die VPIX-teikenwydte van tussen 3% en 6%. In 2009 kan dit weliswaar tot 6,7% daal, maar sal na verwagting eers in 2010 na die teikenvlakke terugkeer.
Sonder die hoër elektrisiteitstariewe kan VPIX-inflasie reeds aanstaande jaar teen gemiddeld 5,4% weer binne die teikenvlakke wees.
In ’n ewe pessimistiese oorsig gister het Moody’s Economy.dot in ’n navorsingsverslag gesê optimisme dat die subprima-krisis oorwaai, is dalk vroegtydig.
Die toestande in die spekulatiewe effektemark lyk beter, maar dit is waarskynlik net ’n “mini-bulmark”. Dit is onrusbarend dat die ekonomiese omstandighede in euro-lande verswak met stygende inflasie en tanende bedryfsaktiwiteite wat toeneem.
Verbruikers is steeds onder druk omdat rentekoerse onveranderd bly.
Aan die positiewe kant het buitelanders weer in April tot die Suid-Afrikaanse aandelemark teruggekeer met aankope van R7,2 miljard.
Dit bring die netto buitelandse aandele-aankope in die Suid-Afrikaanse mark te staan op R3,8 miljard vir die jaar tot sover.
Ontleders skryf dit toe aan buitelanders wat meer geneë vir risiko word en die moontlike MTN-transaksie wat MTN se aandeelhouerskap in ’n beherende Indiese hand kan laat.
Dié moontlike invloei word op tussen $17 miljard en $20 miljard geraam.