Jaco Visser,
Suid-Afrikaanse verbruikers is onder druk en dit hoort só.
Só sê mnr. Ulrich Joubert, deelnemer en drie keer voormalige wenner van Sake24 se Ekonoom van die Jaar-kompetisie en ekonoom by Kruger Internasionaal. Hy het in 2007 onder die vaandel van Solidariteit deelgeneem. Hy voeg by dat verbruikers in die onlangse verlede bestee het wat hulle nie gehad het nie.
“Rentekoerse sal nie voor 2010 afneem nie,” voorspel hy. “Daar sal ouens wees wat gaan kla omdat hulle die afgelope paar jaar oordadig geraak het. Maar pensioentrekkers sal bly wees vir die hoër rente op hul spaargeld.”
Vanjaar se ekonoom van die jaar, gegrond op vooruitskattings vir 2007, word vanaand gekroon.
Suid-Afrikaanse verbruikers gaan gebuk onder hoë rentekoerse wat deur die Reserwebank ingespan word om inflasie te bekamp. Die bank het sedert Junie 2006 sy uitleenkoers aan banke reeds met 450 basispunte verhoog.
“Ek stem saam met die president van die Reserwebank,” sê me. Tebogo Dintwe, nog ’n deelnemer en ekonoom by JPMorgan. “Dit sal nog heelwat slegter gaan voor dit beter sal word. Ek voorsien ’n verdere (totale) styging van 100 basispunte in die uitleenkoers en dan teen volgende jaar ’n afname.”
Mnr. Richard Downing, deel?nemer en onafhanklike ekonoom, sê dat die rentekoersverhogings ’n “wanbalans” in die ekonomie regstel wat deur verbruikersbesteding geskep is. “Rentekoersstygings plaas verbruikers onder druk en dit bewys die wanbalans. Rentekoerse behoort teen die einde van 2009 te begin daal.”
Volgens mnr. Dawie Roodt, deelnemer en ekonoom by Ef?ficient Group, sal daar wel volgende jaar laer rentekoerse wees, maar dit sal “marginaal” eerder as skerp afneem.
Die ekonome is gevra of hulle dink die plaaslike ekonomie is in ’n resessie. “Die amptelike definisie van ’n resessie is laer ekonomiese groei in twee opeenvolgende kwartale,” sê mnr. Mike Schüssler, voormalige Ekonoom van die Jaar en ekonoom by T-Sec. “Ek beskou ’n resessie as wanneer ’n ekonomie stadiger as sy gemiddelde groeikoers groei. Ek dink daar is ’n 50%-kans op ’n resessie in Suid-Afrika.”
Roodt stem saam. “Ek beskou ’n resessie as wanneer ’n ekonomie laer as sy potensiaal groei. Dan is Suid-Afrika tans in ’n resessie.”
Joubert stem nie saam nie. “Nee, ons is nie in ’n resessie nie, maar sien wel ’n verlangsaming in groei. Te danke aan die groot infrastruktuurbesteding sal ons land nie ’n resessie beleef nie.”
Die ekonome stem saam dat dit moeilik is om die effek van Eskom se kragonderbrekings op die ekonomie in syfers saam te vat.
“Dit is onmoontlik om die effek van die kragprobleme op die ekonomie te kwantifiseer,” sê Roodt. “Ek skat die Suid-Afrikaanse ekonomie is tussen R30 miljard en R40 miljard kleiner as wat dit sou gewees het, was dit nie vir die onderbrekings nie.”
Dintwe sê die grootste effek sal in produktiwiteit gesien kan word. Downing stem saam met haar dat die verliese in terme van produksieverliese by nywerhede en myne gesien sal word.
“Die elektrisiteitsprobleme het ekonomiese groeimodelle onbruikbaar gemaak,” sê Schüssler. “Ek dink daar is twee tot drie persentasiepunte van die ekonomiese groeikoers afgesny weens die kragsituasie.”
Volgens Dintwe het die elektrisiteitsprobleme tot hoër dieselpryse en gevolglik hoër inflasie gelei weens die grootskaalse ingebruikneming van dieselaangedrewe kragopwekkers.