Nie eens pres. George W. Bush kan Suid-Afrikaanse boere teen reuse- nuwe plaassubsidies vir hul Amerikaanse eweknieë beskerm nie. Die Farm Bill van $307 miljard (sowat R2 376,18 miljard) is volgeprop met nuwe subsidies vir Amerikaanse boere wat landbouers oor die wêreld heen kan dooddruk. Dit is pas met ’n tweederdemeerderheid deur albei huise van die kongres gevoer.
Bush, wat deurentyd gedreig het om die wetsontwerp te veto omdat dit te veel gee aan boere te midde van rekordoeste en -pryse, kan min doen.
Hy sal beslis die wetgewing veto, maar daarna sal sy eie Republikeinse kollegas teen hom draai om die veto om te keer.
Die massiewe hulppakket vir boere maak ’n bespotting van die ideaal van wêreldwye vrye handel.
Boere in Suid-Afrika, wat nie ’n sent aan subsidies van die regering ontvang nie, kan nie met die Amerikaners meeding nie.
Mnr. Ernst Janovsky, landbou-ekonoom van Absa, sê dit kan daartoe lei dat VSA-boere meer gewasse aanplant, wat die graanprys sal laat daal.
As graanpryse te laag is, is dit nie ekonomies haalbaar vir boere om te plant nie en moet Suid-Afrika voedsel invoer.
Die direkte betaling van $5 miljard aan boere – in slegte en goeie tye – is behou, hoewel meer as net graanboere die geskenkpakkies kry. Baie geld gaan ook in die produksie van alternatiewe brandstof soos etanol gepomp word, hoewel die subsidie vir etanol effens verklein is.
“Dit is regtig ’n landbouwet vir almal,’’ het sen. Tom Harkin, voorsitter van die kongres se landboukomitee, gesê.
Die groot stryd tussen die Withuis en die kongres het gegaan oor die plafon vir hulp aan boere. Bush wou dit op $200 000 vasstel, terwyl die kongres volhou dat die afsnypunt sal wees boere wat $750?000 per jaar verdien uit hul plaas en boere wat $500 000 verdien uit ’n ander inkomstebron as die plaas.
Op die oomblik is daar geen beperking op die inkomste van ’n boer uit sy plaas voordat hy staatsubsidies kan kry nie.
Die kritiek op die beoogde wet is dat, terwyl kiesers sukkel om die duurder kos te bekostig, die politici wetgewing goedkeur wat die boere miljarde dollars van belastingbetalers in die sak bring – hoewel die boere se inkomste vanjaar ’n rekord van byna $93 miljard bereik het.
Prof. Johan Willemse, landbou-ekonoom aan die Universiteit van die Vrystaat, reken nie dit sal dadelik ’n invloed op wêreldvoedselpryse hê nie.
“Daar is tans ’n wêreldtekort aan voedsel en die Amerikaanse boere is nie juis besig om ’n oorskot op ons te stort nie, maar op lang termyn versteur dit markkragte,” sê hy.
“Die vraag wat ons boere vra as hulle sien Amerikaanse boere word gesubsidieer, is: hoekom nie ons nie?” sê Willemse.
“Maar dit help nie om op die VSA te skreeu nie. Daar is geen kans dat hy die subsidies sal laat vaar nie. Ons moet eerder ’n plan maak en leer hoe om landbou in sulke omstandighede te bestuur,” sê hy.