Hoë rentekoerse en inflasie is besig om die privatesektor-ekonomie seer te maak, veral in Gauteng en die Wes-Kaap, waar aktiwiteitsvlakke sigbaar kwyn.
Die Oos-Kaap voel ook die pyn, hoewel dit nie so seer is as wat die ander twee provinsies kry nie. Dít blyk duidelik uit die jongste uitslag van Sake24 se drie provinsiale barometers.
Dié barometers, wat sake-aktiwiteitsvlakke in die privatesektor-ekonomieë van Gauteng, die Wes- en die Oos-Kaap meet, is deur Sake24 in samewerking met die ekonoom mnr. Mike Schüssler en Standard Bank ontwikkel.
Die barometers dui daarop dat aktiwiteitsvlakke in Gauteng se ekonomie in Mei 5,3% swakker was as in Mei verlede jaar. Die Wes-Kaap het met 7,6% geval, terwyl die Oos-Kaap ’n daling van 0,3% ervaar het.
Schüssler sê die Gautengse ekonomie is besig om vinnig te krimp en die huidige ekonomiese toestande is besig om groei te smoor. “Gauteng beleef nog nie ’n krisis nie, maar as sake nie binnekort omdraai nie, kan dit een word. Dit is duidelik dat hoë rentekoerse en inflasie die groeitempo in die bek geruk het.”
Hoewel die Wes-Kaapse ekonomie ook ’n slegte Mei beleef het, gaan dit nog nie so sleg soos in Gauteng nie. Die Oos-Kaap begin eers nou die impak voel nadat die provinsie vanjaar reeds goeie groei ervaar het.
Schüssler sê een van die redes hoekom Gauteng so swaar trek, is dat huiseienaars se verbande baie na aan 100% van die waarde van hul eiendom is. In die Wes-Kaap is dié persentasie ietwat laer, terwyl dit in die Oos-Kaap net sowat 75% beloop.
“Rentekoerse plaas dus baie meer druk op Gautengse verbruikers omdat hul skuldvlakke hoër is. Hul besteebare inkomste daal dus vinniger as in die res van die land as rentekoerse styg en dit is reeds duidelik te sien in die provinsie se dalende kleinhandelsyfers.”
Gauteng se handelindeks, wat die vertoning van die kleinhandel-, groothandel- en vermaaklikheidsektor meet, was in Mei ’n volle 11,6% laer as in Mei verlede jaar. Daarteenoor het die Wes-Kaap (0,2%) en die Oos-Kaap (2,7%) net inkrementele dalings getoon.
“Dit is duidelik dat verbruikers die druk voel en kleinhandelaars van duursame produkte soos voertuie die gevolge dra,” sê Schüssler. “Groothandelaars vaar egter nog verbasend goed.”
Die in- en uitvoerbedrywighede van veral die Wes- en Oos-Kaap vaar ook nog goed. Dit is duidelik in die groei van die volume diesel wat aan die padvervoersektor verkoop word.
In die Wes- en Oos-Kaap was die volume diesel wat in Mei verkoop is, onderskeidelik 15,1% en 22,9% hoër as in Mei verlede jaar. In Gauteng was dit 11,5% hoër.
“Dit wys dat dit goed gaan met die padvervoerbedryf en dat veral in- en uitvoer steeds ’n gesonde volume ervaar,” sê Schüssler.
- Die drie barometers is samevallende indekse wat ekonomiese tendense identifiseer deur die jongste moontlike ekonomiese data te gebruik. Dit meet nie ekonomiese groei nie, maar bloot heersende tendense wat ekonomiese groei beïnvloed.
Sake24 beoog om voor die einde van aanstaande jaar soortgelyke barometers vir elke provinsie bekend te stel.
- ryk.vanniekerk@sake24.com