Nellie Brand,
Die ANC het gister lig gewerp op sake wat op mediumtermyn by die nuwe leiers van die party voorrang gaan geniet. En misdaad is daarby ingesluit.
Mnr. Gwede Mantashe, sekretaris-generaal van die ANC, het gesê ook werkskepping, lande?like ontwikkeling en grondhervorming is van die mediumtermyn-prioriteite wat die party se nasionale uitvoerende komitee die afgelope naweek geïdentifiseer het.
Dié prioriteite sal vandeesmaand op die kabinetslekgotla bespreek word. Dit sal verseker dat die besluite wat die ANC-konferensie in Polokwane geneem het, in volgende jaar se nasionale begroting ingebou word.
Mantashe het op uitnodiging van Nahawu Securities met batebestuurders gesels oor die vrese sedert Polokwane oor die verandering in ANC-leierskap en ekonomiese beleid.
Volgens hom is daar sedert Polokwane onsekerheid oor of die nuwe ANC-leiers goeie fiskale beleid sal behou. Mantashe het gesê die opvatting dat Polo?kwane die begin van verval ingelui het, is verkeerd. “Die werklikheid is dat Polokwane die ANC gered het van beheer deur die politieke sowel as die sake-elite.”
Die mediumtermyn-prioriteite wat die naweek geïdentifiseer is, spruit uit die besluite by Polokwane, die hersiening van die vordering wat gemaak is sedert die Stellenbosch-konferensie, asook die oorsig van die afgelope 15 jaar “om vas te stel waarin misluk is en wat beter gedoen kan word”.
“Die eerste dekade het dalk te veel klem geplaas op die skep van ’n omgewing vir sake sonder om na die behoeftes van armes te kyk. Daar gaan nou groter fokus op die onderkant van die piramide wees.”
Hy het gesê dit sal “oneerlik wees om te sê daar gaan geen veranderinge wees nie”. Dit sal egter “veranderinge wees waar beleid nie suksesvol is nie”.
Op mediumtermyn sal onder meer gefokus word op die versnelling van die pas van groei en die belegging in die produksievermoë van die ekonomie.
Die betrokkenheid van gemarginaliseerdes in ekonomiese aktiwiteit deur werkskepping moet ook bevorder word. “Die klem gaan nie van swart ekonomiese bemagtiging en billike indiensneming afgehaal word nie,” het hy gesê. “Die klem gaan (egter) meer wees op breër bemagtiging.” Daar sal ook gefokus word op die ontwikkeling van ’n welsynsnet saam met belegging in gemeenskapsdienste, en vaardigheidsontwikkeling.
Nog ’n fokus is die verbetering van die staat se vermoë en doeltreffendheid veral ten opsigte van misdaadbekamping. “Misdaad is geprioritiseer as ’n saak wat dringende en ernstige aandag benodig.”
Die laaste prioriteit is streek- en internasionale vennootskappe.
Versnel groei en belegging in produksievermoë
Gee meer hulpbronne vir werkskepping
Ontwikkel ‘n gevorderde welsynsnet
Verbeter misdaadbekamping en dienslewering
Versterk die nywerheidsbeleid
Landelike ontwikkeling en grondhervorming
Vestig ’n nasionale ekonomiese beplanningsentrum