Riana de Lange,
Suid-Afrikaanse huishoudings se spaarvlakke is op hul laagste nóg.
In die laaste twee jaar het huishoudings kwartaal op kwartaal telkens meer bestee as hul totale inkomste.
Dié negatiewe spaarverhouding vererger die knyp vir huishoudings wie se balansstate reeds onder druk is weens dalende huispryse, ’n afname in hul reële koopkrag en die groot styging in die koste van noodsaaklikhede soos petrol en skoolgeld waarop mense nié kan bespaar nie, het dr. Neal Bruton, ekonoom van Response Group Trendline, in ’n aanbieding voor die Port Elizabethse streekkamer van handel en nywerheid, gesê.
Hy meen dit is byna seker dat rentekoerse in Augustus met ’n verdere 0,5 persentasiepunt sal styg.
Die gemiddelde rentekoers sedert Januarie 1990 tot April vanjaar is 16,3%.
Wat die situasie nou anders maak, is dat ’n “nuwe” groep leners sedert 2000 tot die mark toegetree het. Hulle het vir die eerste keer huis gekoop en skuld gemaak op grond van hul eiendom se stygende waarde. Hulle is nie gewoond aan hoë rentekoerse nie, omdat hulle ’n situasie ken waar rentekoerse op ’n 25 jaar-laagtepunt was.
Volgens syfers van die Reserwebank is Suid-Afrikaners se huishoudelike skuld as ’n persentasie van besteebare inkomste 78,2%.
Bruton het gesê dié nasionale syfer sluit alle huishoudings in die land in. Die syfer kan dalk so hoog as 130% wees indien net belastingbetalende huishoudings se skuld in ag geneem word, maar só ’n syfer is nie beskikbaar nie.
Bruton het gewaarsku dat die huidige ekonomiese situasie heelwat verskil van dié in 1998 toe rentekoerse bo 25% gedraai het. Dit het verbruikers toe sowat sewe maande geneem om te herstel.
In die huidige omstandighede het mense se skuld, inflasie en rentekoerse stelselmatig gestyg, wat beteken hulle sal hulle nie nou binne ses of sewe maande daaruit kan loswikkel nie. Noemenswaardige verligting kan eers teen 2010 verwag word.
Buiten internasionale faktore wat bydra tot die ekonomiese afswaai wêreldwyd, loop Suid-Afrika ook deur onder Eskom se verskaffingsprobleme, politieke onsekerheid en die negatiewe impak van Zimbabwe.
Volgens Bruton kan dié faktore dinge moontlik vir die volgende drie jaar deurmekaarkrap.
Vergeleke met die afgelope vyf jaar, sal dit hoër risiko in die sake-omgewing beteken, ’n relatief swakker geldeenheid, relatief hoër inflasie en rentekoerse en ’n relatief laer ekonomiese groeikoers.
Bruton voorspel groei van minder as 3% vir vanjaar en volgende jaar.
Aan die positiewe kant is die swakker rand goed vir uitvoer, en die hoë goudprys tel in Suid-Afrika se guns. Suid-Afrika het ook ’n gesonde nasionale finansiële posisie met lae vlakke van internasionale skuld en ’n begrotingsurplus.