Die kans dat die mielieprys gaan daal, is skraal, al is die mark onstuimig, sê kenners.
Volgens kenners is dit weens swak sentiment in die VSA se graanmark wat nou in ’n beermark-fase is. Suid-Afrika se graanprys is aan dié land s’n gekoppel.
Die mielieprys het in Junie die vlak van R2 000 per ton oortref, die hoogste mielieprys sedert 2002. Dit het later teruggesak.
“Die markte is tans baie onstabiel, maar ons moet onthou dat pryse steeds hoog is,” sê prof. Johan Willemse, landbou-ekonoom verbonde aan die Universiteit van die Vrystaat.
Die Nasionale Oesskattingskomitee (NOK) het gister sy skatting vir die hoeveelheid mielies wat vanjaar geoes gaan word, onveranderd gelaat op 11,6 miljoen ton. Dis sowat 4,4 miljoen ton meer as verlede jaar se finale oes en beteken Suid-Afrika sal vanjaar ’n mieliesurplus produseer wat vir uitvoer gebruik kan word.
“Trouens, daar word reeds uitgevoer,” sê Willemse. “Ons kan vanjaar selfs aan Zimbabwe voorsien.”
Omdat mielies uitgevoer word, word pryse aangepas tot die hoë uitvoerpryse waaraan boere sedert die begin van die jaar gewoond is.
Weens die droogte verlede jaar moes mielies egter ingevoer word.
“Die kans dat dit (pryse) verder sal sak, is skraal,” sê Willemse. Volgens hom kan negatiewe marksentiment dit nie tot onder uitvoerprysvlakke laat daal nie. As daar volgende jaar ’n swak oes is, sal die mielieprys tot die laer invoerpryse daal.
Volgens Willemse is die jongste skatting nie verrassend nie. Dit is in pas met handelaars se verwagtings van tussen 11 miljoen ton en 12 miljoen ton.
“Ek dink die ouens voel nou taamlik gemaklik daarmee (die skatting). Die NOK is gewoonlik ook taamlik in die kol met sy skattings,” sê hy.
Volgens die NOK sal daar vanjaar 6,8 miljoen ton witmielies geproduseer word en 4,7 miljoen ton geelmielies. Die verwagte oppervlakte vir koring-aanplantings is met 19,1% verhoog tot 752 000 ha. Verlede jaar is 632 000 ha koring geplant.