Suid-Afrikaners bly deesdae langer van die werk af weg en dit kos die ekonomie miljarde.
Stres, depressie en angs is toenemend die oorsaak.
Volgens mnr. Johnny Johnson, uitvoerende hoof van Corporate Absenteeism Management Solutions (Cams), was 3,4% van die siekteverlof wat tot einde Junie vanjaar geneem is, weens stres en verwante redes.
Dit is effens hoër as die 3,1% verlede jaar, maar dui volgens Johnson daarop dat die swakker ekonomiese klimaat ’n tol eis op die gemoed van werkers.
Hoewel die syfer in 2006 sowat 3,9% was, is dit uit Cams se navorsing duidelik dat werkers nou langer wegbly, sê Johnson. “Wanneer iemand tussen een en drie dae wegbly, is dit dikwels opportunisties, en dit was meer die geval in 2006, maar hulle bly nou beslis langer weg.”
Werkers is volgens hom onder groter finansiële druk weens die verlangsaming in ekonomiese groei en die uitwerking van die hoër rentekoers en inflasie.
“Dit kan ook emosioneel van aard wees as hulle voel daar is ’n gevaar dat hulle hul werk kan verloor omdat die maatskappy dalk personeel besnoei,” het Johnson gesê.
Volgens Cams het dié wat van die werk wegbly omdat hulle siek was, die ekonomie verlede jaar R19,1 miljard gekos.