Die tekort op die lopende rekening is effens beter daaraan toe en die president se bankrekening véél beter.
Dit blyk uit die Reserwebank se kwartaallikse bulletin en jaarverslag wat gister uitgereik is.
Ná die reuse-tekort van R194,6 miljard in die eerste kwartaal, het die tekort op die lopende rekening gekrimp tot R164,4 miljard.
Die tekort van sowat 8,9% van die bruto binnelandse produk (BBP) in die eerste kwartaal was die gevolg van swakker uitvoer weens die knou wat die kragkrisis vervaardiging en die mynbou toegedien het, asook die skerp styging in oliepryse. Die herstel tot 7,3% in die tweede kwartaal is in pas met die gemiddelde tekort verlede jaar, maar is steeds hoog.
Die Reserwebank se jaarverslag het verder inligting oor die uitvoerende direkteure se vergoeding verskaf.
Dit toon dat mnr. Tito Mboweni, president van die Reserwebank, die afgelope jaar ’n verhoging van 28% gekry het, terwyl verbruikersprysinflasie, wat die bank teiken met sy monetêre beleid, reeds meer as ’n jaar hoër as die boonste kerf van die inflasieteiken van tussen 3% en 6% is.
Mboweni het in die 2008-boekjaar byna R3,8 miljoen verdien teenoor effe minder as R3 miljoen die vorige jaar.
Gemeet aan die bank se hoofdoelwit om prysstabiliteit in die land te handhaaf, het hy die afgelope jaar nie te waffers gevaar nie.
Dit het rentekoersverhogings genoodsaak en baie pyn vir huiskopers, voertuigkopers en verbruikers in die algemeen meegebring.
Salaris- en loonverhogings hoër as inflasie – wat in Julie op 13% was – word ook afgeraai omdat dit die probleem kan vererger. Hoër arbeidskoste word uiteindelik deur ondernemings op die verbruiker afgewentel en kan inflasie verder aanvuur. Daarom is Mboweni se skaflike verhoging vatbaar vir kritiek.
Dr. Xolile Guma, sy adjunk, is die afgelope jaar twee derdes meer betaal as die vorige jaar.
“Monetêre beleid is net ’n deel van die Reserwebank se werksaamhede,” het Mboweni vroeër vandeesweek gesê.
Wanneer die bank as sakeonderneming beskou word, het Mboweni as hoof veel beter presteer, met die bank wat in die boekjaar tot einde Maart ’n nabelaste wins van R2,45 miljard gehad het, sowat 18% hoër as verlede jaar.
Mnr. Mandla Maleka, ekonoom van Eskom, het gesê die syfers oor die lopende rekening bied “groot verligting” vir die rand, maar dat “ ’n mens nie te vinnig” optimisties moet raak nie.
Hy het gewaarsku dat die land se groot infrastruktuurprojekte nog lank nie afgehandel is nie en dat die invoer wat daarmee gepaardgaan, die tekort op die lopende rekening kan laat klim. Dié tekort word gefinansier deur die oorskot op die kapitaalrekening.
Volgens die jongste syfers het die bron van die kapitaal verander. Waar dit in die eerste kwartaal hoofsaaklik regstreekse buitelandse investering was, het dit in die tweede kwartaal meer uit portefeuljebeleggings gekom.